hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3 Die Boodskap (DB)

1. Die gevegte tussen Saul se mense en Dawid se mense het lank aangehou, maar Dawid se mense het naderhand begin wen.

Dawid se seuns

2. Hier is die name van die ses seuns van Dawid wat in Hebron gebore is: Amnon was die oudste; sy ma was Aginoam van Jisreël.

3. Die tweede oudste was Kilab; sy ma was Abigajil, Nabal se weduwee van Karmel. Absalom was die derde oudste; sy ma was Maäka, ’n dogter van koning Talmai van Gesur.

4. Adonia was die vierde. Hy was Gaggit se seun. Die vyfde seun was Sefatja, Abital se kind;

5. en die jongste was Jitream; sy ma was Egla, nog ’n vrou van Dawid. Dit is Dawid se seuns wat in Hebron gebore is.

Abner loop oor na Dawid toe

6. Toe die gevegte tussen Saul se mense en Dawid se mense aanhou, het Abner al hoe belangriker geword in die regering van Saul se seun.

7. Saul het ’n vrou in sy harem gehad met die naam Rispa. Sy was ’n dogter van Aja. Op ’n dag vra Is-Boset vir Abner: “Hoekom het jy by Rispa, een van my pa se haremvroue, geslaap?”

8. Hieroor het Abner hom bloedig vererg. Hy sê toe vir Is-Boset: “Dink jy miskien ek is ’n skelm hond wat jou koningskap wil afneem omdat ek aan Juda se kant is? Ek was nog altyd getrou aan Saul, jou pa, se regering, aan sy familie en aan sy vriende. Ek het ook gekeer dat Dawid jou in die hande kry. En nou kom beskuldig jy my dat ek met hierdie vrou gelol het!

9-10. God kan my maar baie swaar straf as ek nie doen wat ek nou vir jou gaan sê nie: Ék sal sorg dat die koningskap van Saul se familie af weggevat en aan Dawid gegee word soos die Here hom belowe het. Dan sal hy koning wees oor die hele Israel en Juda, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide.”

11. Is-Boset was so bang vir Abner, hy het nie ’n woord gesê nie.

12. Abner het mense na Dawid gestuur om vir hom te gaan sê: “Eintlik behoort die land aan jou. As jy met my ’n ooreenkoms maak, sal ek sorg dat al die Israeliete jou kant kies.”

13. Dawid se antwoord was: “Dis goed so, ek sal ’n ooreenkoms met jou maak; maar op een voorwaarde: jy kom nie hier by my aan sonder Mikal, Saul se dogter, nie.”

14. Dawid stuur toe ook ’n boodskap vir Is-Boset, Saul se seun: “Gee my vrou Mikal vir my terug. Sy is my wettige vrou; ek het vir haar met die voorhuide van 100 Filistyne betaal.”

15. Is-Boset het haar laat haal by Paltiël, die seun van Lajis.

16. Haar man wou haar nie laat gaan nie. Hy het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe Abner vir hom sê: “Gaan terug!” het hy maar omgedraai.

17. Abner het intussen met die leiers van Israel gepraat en vir hulle gesê: “Dis mos nou al ’n hele ruk wat julle graag wil hê Dawid moet julle koning wees.

18. Dis nóú julle kans! Onthou, die Here het gesê Hy gaan Dawid gebruik om sy volk, die Israeliete, vry te maak van die Filistyne en van al hulle ander vyande.”

19. Abner het ook self met die mense van die Benjaminstam gaan praat. Daarna het hy Hebron toe gegaan om self vir Dawid te sê dat die Israeliete en al die mense van die Benjaminstam tevrede was met die reëling.

20. Abner het in Hebron by Dawid aangekom met twintig manne saam met hom. Dawid het vir hom en sy manne ’n groot ete reggemaak.

21. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.”Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar.

Abner word vermoor

22. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad.

23. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen.

24. Joab is dadelik na die koning toe. “Wat het jy nou aangevang?” vra hy vir Dawid. “Abner kom hier na jou toe en jy laat hom sowaar gaan sonder om enigiets aan hom te doen!

25. Jy ken tog vir Abner, daardie seun van Ner! Hy het jou lekker om die bos gelei: hy het net hiernatoe gekom om uit te vind wat jou planne is en wat jy doen.”

26. Joab het van Dawid af weggegaan en, sonder dat Dawid dit weet, manne agter Abner aangestuur om hom terug te roep. Hulle het Abner by Doringputs ingehaal en hom teruggebring.

27. Toe hy in Hebron kom, het Joab hom eenkant toe in die poort van die dorp gevat om kamma vertroulik met hom te praat. Maar net daar het Joab hom met ’n mes in die maag gesteek. Hy is op die plek dood. Joab het dit gedoen om sy broer Asael se dood te wreek.

28. Dawid het agterna eers gehoor wat gebeur het. Hy het gesê: “Die Here is my getuie dat ek en my regering nooit verantwoordelik gehou kan word vir die moord op Abner, Ner se seun, nie.

29. Joab en sy hele familie sal daarvoor betaal: daar sal altyd van sy familielede wees wat vuilsiekte of ’n velsiekte het, of wat met krukke loop of doodgesteek word of honger ly.” (

30. Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.)

31. Daarna sê Dawid vir Joab en al die mense by hom: “Skeur julle klere en bind swart bokhaardoeke om julle lywe en loop in die stoet voor Abner se lyk.” Koning Dawid het self reg agter die draagbaar geloop.

32. Hulle het Abner in Hebron begrawe. Dawid het kliphard by die graf gehuil. Almal het saamgehuil.

33. Die koning het dié klaaglied vir Abner gesing:Abner, waarom moes jy doodgemaak word? Asof jy niks werd is,

34. is jou hande nie geboei, jou voete nie vasgemaak nie; is jy dood soos iemand wat deur straatboewe aangeval is.Toe die mense die lied hoor, het hulle nog meer gehuil oor Abner.

35. Die mense het Dawid probeer ompraat om daardie dag iets te eet, maar Dawid het voor God gesweer hy sal nie sy mond aan iets sit voor die dag om is nie.

36. Al die mense het daarvan te hore gekom en dit waardeer. Om die waarheid te sê, hulle was gelukkig met alles wat die koning gedoen het.

37. Almal by die begrafnis, ja, al die mense in die land het daardie dag besef die koning het niks te doen gehad met Abner se moord nie.

38. Ná die tyd het Dawid vir sy amptenare gesê: “Julle weet natuurlik ’n groot leier van Israel is vandag dood.

39. Ek is nou wel die koning, maar ek kan nog niks doen aan hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is nog te sterk vir my. Maar die Here sal sorg dat die een wat hierdie verkeerde ding gedoen het, sy verdiende loon kry.”