hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17 Die Boodskap (DB)

1. Agitofel sê toe ook nog vir Absalom: “Laat my toe om 12 000 man uit te soek, dan sit ek Dawid dadelik agterna, sommer vannag nog.

2. Ek sal hom aanval terwyl hy moeg en sy moed in sy skoene is. Ek sal hom só skrikmaak dat al sy manskappe wat by hom is, sal weghardloop. Dan maak ek net die koning dood.

3. Ek sal al sy mense agter u kry. Hulle sal almal agter u staan soos hulle agter daardie man wat u soek, gestaan het. Almal sal gelukkig wees.”

4. Absalom en al die leiers van Israel het gedink dis ’n goeie plan.

5. Toe sê Absalom: “Roep ’n bietjie vir Gusai, die Erekiet, dat ons hoor wat hý te sê het.”

6. Toe Gusai inkom, sê Absalom vir hom: “Dis wat Agitofel gesê het. Moet ons dit doen? As jy nie saamstem nie, moet jy praat.”

7. Gusai sê toe: “Agitofel se plan is hierdie keer nie so goed nie.

8. U ken u pa en sy manne: hulle is baie dapper en hulle is nou so kwaai soos ’n wilde beer wie se kleintjies afgeneem is. U pa is ’n ou soldaat: hy sal nie vannag by die manskappe slaap nie.

9. U kan seker wees hy kruip weg in ’n klipskeur of so ’n plek. As van Agitofel se manne doodgemaak word in die eerste aanval, sal daar ’n storie versprei dat daar sommer baie van Absalom se mense dood is.

10. Dan sal selfs die dapper manne wat vir g’n duiwel stuit nie, se moed hulle begewe, want al die Israeliete weet dat u pa ’n vegter is en dat daar dapper manne by hom is.

11. “My plan sal wees om eers al die Israeliete wat kan veg, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, bymekaar te maak. Maak soveel manne bymekaar as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Gaan veg u dan self saam met hulle.

12. Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie.

13. En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.”

14. Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref.

15. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het.

16. Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.”

17. Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat.

18. Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim

19. en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie.

20. Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.”Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe.

21. Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan.

22. Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier.

23. Toe Agitofel sien die mense volg nie sy raad nie, het hy sy donkie opgesaal, sy goedjies gevat en na die dorp toe gery waar hy gebly het. Hy het vir sy huismense ’n paar laaste goed gesê wat hulle moet doen en homself toe opgehang. Hy is dood en hulle het hom in die familiegraf begrawe.

24. Dawid het in Maganajim aangekom net toe Absalom en al die manne van Israel deur die Jordaanrivier trek.

25. Absalom het vir Amasa aangestel as generaal in Joab se plek. (Amasa se pa was ’n man met die naam Jeter, ’n Israeliet wat met Abigal getroud was. Abigal was Nagas se dogter. Sy was weer ’n suster van Seruja, Joab se ma.)

26. Die Israeliete en Absalom het in die Gileadstreek kamp opgeslaan.

27. Toe Dawid daar in Maganajim aankom, het Sobi en Makir en Barsillai na hom toe gekom. (Sobi was Nagas se seun wat van Rabba van die Ammoniete af gekom het; Makir was Ammiël se seun uit Lo-Dabar, en Barsillai was ’n man van Gilead wat van Rogelim af gekom het.)

28. Hulle het vir Dawid en sy mense beddegoed, breekgoed, bakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies,

29. heuning en dikmelk, bokmelkkaas en beesmelkkaas gebring. Hulle het gesê: “Die mense het seker honger en moeg en dors geraak in die Jordaanvallei.”