hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 10 Die Boodskap (DB)

Dawid maak oorlog teen die Ammoniete en die Arameërs

1. ’n Ruk daarna is die koning van die Ammoniete dood. Sy seun Ganun het in sy plek koning geword.

2. Dawid het gedink: “Ek sal vriendelik wees met Nagas se seun Ganun, want sy pa was altyd vriendelik met my.”Dawid stuur toe van sy amptenare om vir Ganun te sê hy is jammer oor sy pa se dood. Maar toe Dawid se mense in die land van die Ammoniete aankom,

3. sê die leiers van die Ammoniete vir Ganun, hulle nuwe koning: “Dink u regtig Dawid het soveel respek gehad vir u pa dat hy sy mense sal stuur om te kom sê hy is jammer oor sy dood? Het hy nie maar net sy mense gestuur om hier in die stad te kom rondsnuffel en alles mooi deur te kyk sodat hulle dit later kan verwoes nie?”

4. Ganun het toe die amptenare van Dawid gevat en die een kant van hulle baarde afgeknip. Hy het ook hulle klere bokant die sitvlak afgesny en hulle so teruggestuur.

5. Toe Dawid hoor wat gebeur het, het hy mense gestuur om hulle voor te keer en vir hulle te sê om vir eers in Jerigo te bly tot hulle baarde weer uitgegroei het, want die mans was verskriklik skaam.

6. Die Ammoniete het geweet Dawid is baie kwaad vir hulle. Daarom het hulle mense gestuur om vir hulle soldate te huur. Hulle het 20 000 Aramese soldate by die regerings van Regob en Soba gekry. Hulle het ook by die koning van Maäka 1 000 manskappe en by Is-Tob nog 12 000 gehuur.

7. Dawid het dit gehoor en vir Joab met al sy beste soldate gestuur om teen hulle te veg.

8. Die Ammoniete se soldate het reggestaan voor die ingang na hulle hoofstad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Is-Tob en Maäka was eenkant in die oop veld.

9. Joab het gesien hulle gaan hom van voor en van agter af aanval. Daarom het hy die heel beste soldate in Israel laat regstaan om teen die Arameërs te veg.

10. Die ander soldate het hy vir sy broer Abisai gegee sodat hulle teen die Ammoniete kon veg.

11. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, sal ek jou gaan help.

12. Maar julle moet moed hou! Ons moet dapper veg vir ons mense en vir die dorpe van ons God. Die Here sal besluit wie hier gaan wen.”

13. Joab het met die manne wat by hom was, die Arameërs aangeval, maar hulle het vir hom weggehardloop.

14. Toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook vir Abisai padgegee en in hulle stad ingegaan. Joab het toe nie verder geveg teen die Ammoniete nie en teruggegaan Jerusalem toe.

15. Toe die Arameërs sien dat hulle teen die Israeliete verloor het, het hulle al die soldate wat hulle het, bymekaargemaak.

16. Hadad-Eser het ook die soldate wat oorkant die Eufraat was, laat kom. Die hele leër van die Arameërs het na Gelam toe getrek. Sobak, Hadad-Eser se groot generaal, was die leier.

17. Toe Dawid dit hoor, het hy al die Israeliete wat kon veg, bymekaar laat kom en deur die Jordaanrivier na Gelam toe getrek. Die Arameërs was reg vir Dawid en het teen hom begin veg.

18. Maar hulle moes weer vir die Israeliete vlug. Dawid het 700 van die Arameërs se perde wat strydwaens trek, doodgemaak en ook 40 000 van die soldate wat op die strydwaens ry. Sobak, die groot generaal, is ook in die geveg dood.

19. Toe die kleiner konings wat vir Hadad-Eser in die oorlog moes help, sien dat hulle teen Israel verloor het, het hulle met die Israeliete vrede gemaak en vir hulle gewerk. Die Arameërs van Hadad-Eser was daarna te bang om die Ammoniete weer te help.