hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 8 Die Boodskap (DB)

Dawid se oorloë en sy regering

1. Dawid het daarna die Filistyne gewen in die oorlog. Hy was hulle baas en hulle kon nie meer doen wat hulle wou nie.

2. Dawid het ook die Moabiete gewen. Hy het hulle in rye op die grond laat lê. Hy het toe ’n meetlyn gevat en die rye gemeet. Die eerste en tweede groep onder die meetlyn is elke keer doodgemaak en die derde groep onder die meetlyn is gespaar. Die Moabiete wat oorgebly het, moes vir Dawid werk en aan hom belasting betaal.

3. Dawid het Hadad-Eser, die koning van Soba, ook in ’n geveg gewen. Hadad-Eser was op pad om die grond wat hy langs die Eufraatrivier verloor het, te probeer terugkry. Hy was Regob se seun.

4. Dawid het 20 000 van sy gewone soldate gevang en 1 700 van sy strydwaens afgevat. Hy het die hakskeensenings van die perde wat die strydwaens trek, laat afkap. Net 100 spanne van die perde het hy uitgehou.

5. Die Arameërs het van Damaskus af gekom om vir Hadad-Eser te help, maar Dawid het 22 000 van hulle soldate in die gevegte doodgemaak.

6. Hy het van sy eie soldate oral in die land van die Arameërs van Damaskus laat bly. Die Arameërs moes vir Dawid werk en aan hom belasting betaal. Dis die Here wat Dawid al hierdie oorloë laat wen het.

7. Dawid het die goue pylkokers van Hadad-Eser se lyfwag gevat en dit Jerusalem toe gebring.

8. Hy het ook baie brons saamgebring van Betag en Berotaj af, twee dorpe van Hadad-Eser.

9. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid teen die hele leër van Hadad-Eser gewen het,

10. het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur om hom te groet en hom geluk te wens dat hy Hadad-Eser gewen het, want Hadad-Eser het gedurig teen Toï oorlog gemaak. Joram het vir Dawid geskenke van silwer, goud en brons saamgevat.

11. Koning Dawid het hierdie geskenke spesiaal vir die Here gebêre, net soos hy gemaak het met die goue en silwer goed wat hy gevat het by die mense wat hy in sy oorloë gewen het.

12. Dit was die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne, die Amalekiete en dan natuurlik ook die koning van Soba, Hadad-Eser, Regob se seun.

13. Toe Dawid terugkom van al die gevegte af, het hy ook 18 000 Edomiete in die Soutvlakte in ’n geveg gewen. Dit het hom nog meer beroemd gemaak.

14. Hy het ook van sy soldate in Edom laat bly. Al die Edomiete moes vir hom werk. Dit was die Here wat Dawid al sy oorloë laat wen het.

15. Nadat Dawid koning oor die hele Israel geword het, was hy vir al sy mense ’n goeie regter wanneer daar hofsake was.

16. Joab, Seruja se seun, was die belangrikste generaal en Josafat, Agilud se seun, was die sekretaris van die regering.

17. Sadok, Agitub se seun, en Agimelek, Abjatar se seun, was die twee belangrikste priesters. Seraja moes alles vir die regering opskryf.

18. Benaja, Jojada se seun, was aangestel oor die lyfwagte van Dawid. Dawid se eie seuns was ook priesters.