Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:3-18 Die Boodskap (DB)

3. Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem.

4. In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was.

5. Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie.

6. Nou weet ons ten minste hoe die Heilige plek gelyk het. Die priesters het gereeld in die eerste kamer (die Heilige deel) ingegaan. Daar het hulle alles gedoen wat hulle moes.

7. Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie.

8. Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was.

9. Ons kan nogal baie hieruit leer: mense het wel allerhande geskenke en offers na die Heilige plek toe gebring, maar hulle kon nie heeltemal seker wees dat hulle saak met God dan honderd persent reg was nie.

10. Hulle was vreeslik ernstig oor wat hulle mag eet en drink en wat nie en het allerhande dinge gedoen om hulle darem aanvaarbaar vir God te probeer hou. Hierdie soort dinge raak nie regtig die hart van die godsdiens nie en daarom, vandat Christus alles nuut kom maak het, is hierdie dinge ook nie meer nodig nie.

11. Christus het gekom as Hoëpriester van die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense. Dit was baie goed. Hy het nie net in ’n plek ingegaan wat maar hier op aarde deur mense gemaak is nie. Hy het deur die Heiligste plek in die hemel ingegaan. Dit is ’n baie beter en volmaakter plek as die een op aarde.

12. Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees.

13. Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het.

14. Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak. Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien.

15. Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms.

16-17. Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament.

18. Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9