hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4 Die Boodskap (DB)

Werk hard vir die Here, al vra dit baie van jou

1. Moenie van ons, wat julle geestelike leiers is, iets maak wat ons nie is nie. Ons is net mense wat vir Jesus werk. God het ons gevra om aan julle die dinge oor Hom te vertel wat julle nie weet nie.

2. Natuurlik word daar van iemand wat so ’n belangrike werk het, verwag om dit deeglik te doen.

3. Maar ek steur my min aan wat ander mense oor my werk kwytraak. Ek self mors ook nie tyd om te sit en tob of ek goed of sleg vaar nie.

4. Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie en my gewete pla my ook nie. Dit beteken nie dat ek alles reg doen nie. God sal daaroor besluit.

5. Moet daarom nie te vinnig wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed nie. Wag geduldig tot die Here kom. Hy sal nie oppervlakkig oordeel nie. Die dinge wat mense skelm gedoen het, sal dan nie meer in die donker bly nie. Dit sal oop en bloot wees vir almal om te sien. Die motiewe waarmee mense vir die Here gewerk het, sal op dié dag nie meer weggesteek kan word nie. Dit sal daar wees vir almal om te hoor. Dit sal soos ’n prysuitdeling wees: elkeen sal van God die prys kry wat hy verdien.

6. My liewe vriende, ek het myself en Apollos as voorbeeld gebruik om dit vir julle makliker te maak om te verstaan wat die gesegde beteken: “Moenie verder gaan as wat God jou geleer het om te gaan nie.” As julle dit verstaan, sal julle nie die een werker van God prys en die ander een afkraak nie.

7. Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders? Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is?

Moenie te veel van jouself dink nie

8. Julle dink mos julle het alles wat julle nodig het, ja, in julle eie oë is julle geestelike miljoenêrs. Julle gedra julle asof julle die belangrikste mense op die aarde is en ons glad nie nodig gehad het nie. Ek wens dat julle régtig so belangrik geword het, want dan sou ons saam met julle net so belangrik kon wees.

9. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan.

10. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons.

11. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en

12. kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly.

13. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog.

Paulus is hulle geestelike vader

14. Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet.

15. Onthou dit, julle kan duisende mense hê wat vir julle baie dinge oor Christus leer, maar julle kan net een geestelike vader hê. Ek is julle geestelike vader. Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die eerste maal by my die wonderlike boodskap oor Jesus Christus gehoor het.

16. Daarom vra ek julle baie mooi om te maak soos ek maak. Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op.

17. Juis daarom stuur ek Timoteus na julle toe. Hy is vir my soos ’n seun en ek het hom baie lief. Hy is ook baie getrou aan die Here. Hy sal weer met julle gesels oor hoe ek as Christen leef en wat ek oor Christus leer. Julle onthou mos nog. Dit is wat ek oral, in elke gemeente, vir al die mense leer.

Die krag van God word in ’n kind van God gesien

18. Daar is party van julle wat ewe windmakerig hulle invloed in die gemeente wil laat geld en voorgee dat ek nie die moed sal hê om weer na julle toe te kom nie. Daar wag ’n verrassing vir julle.

19. As die Here my toelaat, is ek binnekort weer daar by julle. Dan sal ons sien of daardie ouens wat so baie van hulleself dink net ’n klomp wind is en of daar iets in hulle steek.

20. Immers, as iemand ’n kind van God is, sal ’n mens in die manier waarop hy leef die krag van God kan sien. Dit vra baie meer as om net ’n klomp storietjies te maak.

21. As julle nou moet kies, wat sou julle wou hê? Moet ek met ’n sambok kom om slae te kom uitdeel of moet ek liewer met liefde en vriendelikheid kom? Besluit julle maar self.