hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11 Die Boodskap (DB)

1. In ’n neutedop: julle moet doen wat ek doen, net soos ek doen wat Christus doen.

Respek vir mense, maar veral vir God

2. Dit is vir my lekker om te hoor dat julle my nie vergeet het nie, maar gedurig aan my dink en dat julle die dinge doen wat ek vir julle as Christene geleer het.

3. Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. Elke man staan onder die gesag van Christus en die vrou onder die gesag van die man. Almal staan egter onder die gesag van God.

4. As enigiemand met God of oor God praat sonder die nodige respek, respekteer hy ook nie vir Christus nie.

5. Net so steek ’n vrou haar man in die skande as sy sonder respek vir haar man met of oor God praat. Dit is so goed sy mismaak haarself liederlik. Sy kan haar maar mismaak as sy nie, soos ons gebruik is, uit respek vir haar man iets op haar kop het nie.

6. As sy dit nie wil doen nie, moet sy maar al haar hare afsny. Dit is ons gebruik; ’n vrou moet iets op haar kop hê as teken van haar respek vir haar man, maar

7. ’n man moet dit juis nie doen nie, uit respek vir God. Iets van die grootheid van God moet in die man sigbaar word. As teken daarvan moet hy dus nie iets op sy kop sit nie. Deur die klere wat ’n vrou aantrek, moet sy weer iets van haar respek vir haar man wys. Julle vra waarom.

8. Wel, God het mos nie die man uit die vrou gemaak nie, maar die vrou uit die man.

9. Die man is nie gemaak omdat daar ’n vrou was nie, maar die vrou omdat daar ’n man was.

10. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra om so te wys sy respekteer haar man. Selfs die hemelse wesens, die engele, sal dit kan sien. Noudat ons Christene is wat die Here dien, moet ons nie te veel argumenteer oor wie nou juis die belangrikste is, die man of die vrou, nie.

11. Die man het die vrou nodig en die vrou die man.

12. Dat dit so is, kan ons in die natuur sien. Net soos die eerste vrou uit die man geneem is, so word mans nou uit vroue gebore. Agter al hierdie dinge staan God self, want dit is Hy wat mans en vroue maak.

13. Werk dit nou vir julleself uit: Is dit reg vir ’n vrou om met God te praat terwyl sy geen respek vir haar man het nie en dit wys deur nie ons gebruik te respekteer en iets op haar kop te sit nie?

14. Sê julle gevoel nie ook vir julle dat ’n man wat lang hare dra hom belaglik maak,

15. terwyl dit weer vir ’n vrou ’n pragtige versiering is nie? God het haar hare juis vir haar gegee om haar kop mooi toe te maak.

16. As iemand nou hieroor wil stry, is my antwoord dat dit is hoe ons dinge doen. Nou bedoel ek nie net ons nie, maar al die ander Christene ook.

Moenie “nagmaal-nagmaal” speel nie

17. Ek het nog iets om met julle te bespreek, maar dit is nie vir my so lekker nie, want hier is julle op die verkeerde pad en ek moet dit ongelukkig vir julle sê. As julle as gemeente bymekaarkom, bring dit die slegste in julle na vore in plaas van die beste.

18. Ek hoor byvoorbeeld dat as julle veronderstel is om as gemeentelede saam te wees, julle groepe vorm wat elkeen sy eie ding doen. Soos ek julle ken, weet ek dat wat ek gehoor het nie sommer praatjies is nie. Die gedwarstrekkery is nie net sleg nie.

19. Dit is ook goed, want so wys julle julle ware kleure. So kan ’n mens sien wie staan regtig aan die kant van God en wie nie.

20. As julle bymekaarkom om saam nagmaal te hou, tree julle so lelik op dat ’n mens dit sowaar nooit “nagmaal” sal kan noem nie.

21. Julle wag dan nie eens vir mekaar nie en deel ook nie julle kos wat elkeen saamgebring het met mekaar nie. Sonder om om te gee of jou medegelowige langs jou doodgaan van die honger, sal jy jou trommeldik eet en nog te veel wyn ook drink. Maar jy sal nie daaraan dink om vir hom langs jou ook ietsie aan te bied nie.

22. Hoekom gaan jy dan nie maar liewer huis toe en gaan eet jou daar trommeldik en drink daar jou wyn alleen op nie? Is dit vir julle lekker om op hierdie manier die arm mense te verneder wat nie soveel kos soos julle rykes het nie? Wat verwag julle moet ek nou daarvan sê? Dink julle ek moet daaroor bly voel en julle vreeslik prys? So nooit aste nimmer nie.

Die nagmaal moet jou aan die Here herinner

23. Kom ek verduidelik weer vir julle wat die Here self oor die nagmaal gesê het. Dit alles het die nag gebeur toe Jesus gevang is. ’n Rukkie voor Hy gevang is, het Hy saam met sy getrouste volgelinge geëet. Hy het die brood gevat

24. en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen, sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer as julle dit eet, moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.”

25. Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.”

26. Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here terugkom. As julle dit so doen, is dit so goed soos ’n preek vir almal om te sien wat die dood van die Here vir julle beteken.

Hou nagmaal in opregtheid

27. Dit beteken dat ’n mens nie sommer skouerophalend die nagmaal kan eet asof dit niks is nie. As jy dit op so ’n traak-my-nieagtige manier doen, is jy amper net soos daardie mense wat vir Jesus geslaan en gespot het toe Hy gekruisig is. Hulle het nie besef wat die dood van Jesus regtig vir mense beteken nie. Wil jy regtig soos hulle wees? Sekerlik nie.

28. Kyk dan diep in jouself en soek na die redes hoekom jy die nagmaal eet. Toets jou gesindheid voor jy van die brood en die wyn vat.

29. As jy die nagmaal gebruik, maar jy gee nie om vir wat die brood en wyn beteken nie, kan dit ernstige gevolge vir jou hê. Jy gee die Here dan alle rede om jou te straf.

30. Wil julle ’n bewys hiervoor hê? Kyk net hoeveel van julle het nie meer behoorlik krag om uit die bed op te staan nie en ly aan allerhande siektes. Party is selfs al dood.

31. Wees dus liewer strenger met julleself en maak mooi seker dat julle die nagmaal eet soos die Here dit bedoel het.

32. Wie dit met die regte gesindheid doen, sal die Here geen rede gee om hom te straf nie. Die Here wys nou liewer vir ons dat Hy met ons ongelukkig is as ons verkeerde dinge doen. Deur slegte dinge met ons te laat gebeur help Hy ons ook reg sodat ons nie eendag dieselfde paadjie sal loop as die wêreld wat nie in Hom glo nie. Die Here gaan hulle almal met die finale oordeel hard straf.

33. My liewe vriende, nou sal julle goed verstaan waarom ek julle vra om maar te wag tot almal daar is voor julle die nagmaal eet.

34. As iemand dan so honger is dat hy nie kan wag nie, laat hy iets by die huis eet. As julle dan bymekaar is, sal die versoeking nie daar wees om iets verkeerds te doen nie en sal dit ook nie vir die Here nodig wees om julle te straf nie. Dit is nou vir eers genoeg hieroor. Wanneer ons mekaar weer sien, kan ons verder gesels oor al die ander goed waaroor julle nog onseker is.