hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 16 Die Boodskap (DB)

Hou julle bydrae vir Jerusalem reg

1. Ek wil ook nog ’n bietjie met julle praat oor die geld wat julle vir die Christene in Jerusalem bymekaargemaak het. Maak asseblief soos ek met die mense in Galasië gereël het.

2. Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit, afhangende van wat hy daardie week verdien het. Spaar dit sodat ons nie ’n ekstra klomp geld hoef in te samel wanneer ek daar by julle aankom nie.

3. Al wat dan nodig sal wees, is dat julle ’n paar persone moet aanwys om die geld na Jerusalem toe te vat. Ek sal vir hulle briewe saamgee sodat wanneer hulle in Jerusalem kom, die mense hulle vriendelik sal ontvang.

4. As julle voel dat ek ook moet saamgaan, kan ons sommer saam reis.

Paulus praat oor sy toekoms en met sy vriende

5. Ek moet in Noord-Griekeland ’n draai gaan maak. Daarna sal ek na julle toe kom.

6. Ek gaan ’n rukkie daar by julle oorbly, miskien nog die hele winter. Dan kan julle my help met wat ek nodig het om verder te reis, waarheen dit ook al is.

7. Ek wil hierdie keer nie net kom inloer nie, maar graag behoorlik by julle kom kuier. Dit is natuurlik as die Here wil.

8. Ek wil graag hier in Efese bly tot na pinkster,

9. want hier het ’n klomp goeie dinge gebeur wat ek nie so kan los nie - die Here het vir my wonderlike geleenthede gegee om vir mense van Hom te vertel. Daar is ook ’n klompie wat probeer keer dat ek vir die Here werk.

10. Wanneer Timoteus daar opdaag, moet julle hom gasvry ontvang. Laat hom tuis voel en kyk mooi na hom, want hy werk hard vir die Here, net soos ek.

11. Niemand moet hom verkleineer nie. Julle moet hom eerder help om sonder probleme in vrede te reis sodat hy weer na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers.

12. Ek het mooi met Apollos gepraat en gevra dat hy saam met die ander broers na julle toe moet gaan. Hy kon egter nie nou gaan nie en daarom het hy nee gesê. Sodra hy kans kry, sal hy wel gaan.

13. Wees wakker in die lewe en moenie toelaat dat iemand julle geestelik van balans af gooi nie, want julle glo mos. Moenie soos bangbroeke wees nie, maar staan julle man.

14. Doen alles wat julle doen met liefde.

15. Ek wil julle nog iets vra, my broers en susters. Julle onthou mos nog vir Stefanas. Hy en sy huisgesin was die eerste mense in Suid-Griekeland wat Christene geword het.

16. Hulle was van die begin af meer as gewillig om mede-Christene te help waar hulle kan. Sulke mense se voorbeeld moet julle volg en almal wat saam met hulle vir die Here woel en werskaf.

17. Ek was bly toe Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Dit het sommer baie gehelp vir my verlange na julle almal.

18. Hulle het vir my net so baie beteken as vir julle. Sulke mense moet julle waardeer.

19. Die gemeentes hier in Asië stuur vir julle groete. Akwila en Priscilla saam met almal wat in hulle huis bymekaarkom, stuur spesiaal vir julle as mede-Christene baie liefde.

20. Al die gelowiges het my gevra om hulle groete oor te dra. Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit behoort te doen.

21. Ek, Paulus, skryf hierdie laaste paar groetwoorde self.

22. Mag die Here die persoon straf wat in liefdeloosheid die rug vir die Here draai. Kom, Here!

23. Mag die Here vir julle baie goed wees.

24. Ek sal altyd in liefde aan julle dink, want ons almal behoort aan Jesus.