hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10 Die Boodskap (DB)

Om die Here te dien beteken om vir Hom te leef

1. Liewe vriende, kyk weer na wat in ons geskiedenis gebeur het en leer daaruit. Toe ons voorouers deur die woestyn getrek het, was hulle heeltyd onder ’n wolk. Hulle het ook deur die water van die see gegaan. Hulle het dus gedurig water om hulle gehad.

2. ’n Mens sou dus kon sê dat hulle as Moses se volgelinge gedoop is deur die water van die wolk en die see.

3. Net so het hulle almal van die kos geëet wat God spesiaal vir hulle gegee het en

4. van die water gedrink wat God vir hulle uit die rots laat kom het. Eintlik sou ’n mens kon sê dat hulle ’n geestelike rots gehad het wat saam met hulle gegaan het en dat Christus die rots is.

5. Al is hulle “gedoop” en al het hulle die geestelike kos geëet, was God nie tevrede met die manier waarop die meeste van hulle geleef het nie. Daarom is hulle in die woestyn dood sonder om in die Beloofde Land in te gaan.

God is nie tevrede met ongehoorsaamheid nie

6. Laat dit wat met hulle gebeur het vir ons ’n voorbeeld en waarskuwing wees. Dieselfde gaan met ons gebeur as ons ook heeltyd net in die verkeerde dinge belangstel soos party van hulle.

7. Los die afgode uit. Die verhaal is mos neergeskryf: “Die volk het lekker gesit en feesvier, maar toe het hulle sulke vieslike dinge begin doen wat op geen manier by ’n kind van God pas nie.”

8. Ons moet oppas om ons nie so sleg te gedra soos party van hulle by daardie fees gedoen het nie. Kyk wat het met hulle gebeur: God het 23 000 van hulle op een dag laat doodgaan.

9. Ons moet nie kyk hoe ver ons Christus kan tart voordat Hy sy geduld met ons verloor nie, soos sekere van ons voorouers gedoen het. Ons weet wat het toe met hulle gebeur: hulle is deur slange doodgebyt.

10. Moet ook nie waag om te sê dat God ’n fout gemaak het nie, soos party van hulle gedoen het. God het die engel wat net verwoesting agterlaat na hulle toe gestuur, en nou is hulle dood.

11. God het hulle ’n voorbeeld vir ons gemaak. Ons kan dus nie sê dat ons nie gewaarsku is nie. Dit staan lewensgroot in die Skrif geskryf vir ons wat in die tyd leef net voor die Here weer kom. In dié tyd sal dit nie met die Christene net goed gaan nie.

12. Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie.

13. Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.

Jy kan nie God aan die een kant en

14. Daarom, my liewe broers en susters, moet julle niks te doen hê met alles wat mense in die plek van die ware God aanbid nie.

15. Julle is mos slim genoeg om self te besluit of wat ek sê waar is of nie.

16. By die maaltyd van die Here sê ons mos altyd vir die Here baie dankie vir die beker. Is die beker waarvoor ons so dankie sê, nie juis vir ons ’n bewys dat die bloed van Jesus ook vir ons bedoel is nie? En as ons die brood eet, is dit nie ’n bewys van wat Jesus se liggaam alles vir ons beteken nie? Ons elkeen kry ’n klein stukkie van die een groot stuk brood.

17. So deel baie mense een brood. Daarom vorm ons as gemeentelede ’n hegte eenheid as ons saam die nagmaalsbrood eet, al is ons baie verskillende mense.

18. Kom ons gaan steek weer kers op by wat onder die Joodse volk gebeur. Mense wat ywerig alles doen wat hulle godsdiens van hulle vra, wil eintlik daarmee sê dat hulle die god van daardie godsdiens erken en dien, nie waar nie?

19. Daarmee wil ek nie sê dat al die godsdienstige dinge wat mense vir ’n afgod doen nou skielik daardie afgod lewendig maak nie.

20. Wat wel gebeur, is dat daardie mense eintlik alles vir duiwels doen, want hulle doen dit beslis nie vir God nie. En ek wil seker maak dat julle nie duiwels in plaas van God dien nie.

21. ’n Mens kan nie aan die een kant die nagmaalsbeker drink en dan omdraai en by ’n afgodstempel instap en daar drink en doen soos jy wil nie. Net so min kan jy in die oggend saam met die Here aan sy nagmaalstafel sit en dan die middag saam met die demone gaan feesvier.

22. Wat dink julle doen julle as julle met sulke dinge besig is? Dink julle miskien dat julle die Here jaloers kan maak of dat julle sterker is as Hy?

Wees sensitief teenoor ander mense

23. As ’n mens byvoorbeeld vleis kry wat aan afgode geoffer is, sou die gelowige kon redeneer: “Ek mag alles doen.” Maar dan moet hy die tweede deel van hierdie sin onthou: “Nie alles is goed om te doen nie.”

24. Dié wat so spog dat hulle alles mag doen, moet onthou dat dit wat ’n mens doen, vir ander mense ook iets moet beteken. Jy moet nie net altyd aan jouself dink nie.

25. Jy hoef nie ’n “afgodstoets” te doen op kos wat jy koop nie. Jou gewete hoef jou ook nie te pla as jy dit nie gedoen het nie.

26. Want onthou, “die hele aarde met elke ding daarop, klein of groot, is die Here s’n”. En dit bly so, al word die vleis kamma vir ’n afgod geoffer.

27. As ’n nie-Christen jou uitnooi om by hom te kom eet en jy wil dit graag doen, eet wat hy jou gee om te eet. Moenie allerhande spoke opjaag deur te begin wonder of die kos dalk op die een of ander manier met afgode te doen het nie. Jou gewete hoef jou glad nie te pla nie.

28. As die nie-Christen egter doelbewus vir jou sê dat daardie kos van sy afgode af kom, moet jy nie jou mond daaraan sit nie. As jy dit eet, sal dit die nie-Christen onder die indruk bring dat jy nie omgee om sy afgod te dien nie; dit sal dan sy gewete ry.

29. Nou kan ’n mens natuurlik vra waarom ’n ander man se gewete vir my moet voorskryf wat ek mag doen en wat ek nie mag doen nie.

30. As ek vir God dankie sê vir die kos en lekker eet, hoe kan iemand dan sê dat dit verkeerd is om die kos te eet? Deur daarvoor dankie te sê erken ek mos dat dit van God af kom.

31. Laat ek dit so stel: alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is.

32. Daarom mag julle niks doen wat ander mense seermaak of skade aandoen nie. Dit maak nie saak wie dit is nie - of hy ’n Christen is of nie en of jy van hom hou of nie.

33. Dit is presies wat ek doen. Ek dink nie net aan myself nie, maar probeer om goed te wees vir ander mense. Ek doen nie goed wat hulle irriteer of afsit nie, sodat hulle ook deur my optrede die Here kan leer ken.