hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 3 Bybel vir Almal (ABA)

Wanneer die Here kom

1. Die Here wat oor alles regeer, sê:“Ek sal iemand stuur om vir julle’n boodskap te bring.Hy sal vir My die pad gereedmaak.Julle soek die Here, en Hy sal gouna sy tempel kom.Julle wag vir die Engel wat’n verbond gemaak het met julle.Dit is Ek, en Ek sal nou kom.”

2. Maar wanneer die Here kom, dan sal niemand kan aanhou lewe nie. Hy is soos die vuur waarin hulle die klip smelt om goud en silwer te kry. Hy is soos die seep wat klere skoonmaak.

3. Die Here sal die Leviete straf oor hulle sonde en Hy sal hulle skoonmaak soos iemand wat goud of silwer smelt en dit skoonmaak. Die Here sal vir hulle leer om vir Hom offers te bring soos Hy dit wil hê.

4. Dan sal die Here weer hou van die offers van die mense van Juda en Jerusalem, soos voorheen, soos jare gelede.

Kom terug na My toe

5. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal na julle toe kom om te sê wie is reg en wie is verkeerd. Ek sal die mense straf wat My nie eer nie. Hulle is mense wat toor, mense wat egbreuk pleeg, mense wat belowe maar wat nie wil doen wat hulle belowe nie, mense wat hulle werkers en weduwees en weeskinders verdruk, mense wat nie reg doen aan mense uit ander lande wat by hulle woon nie, mense wat My nie eer nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

6. “Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het Ek julle nie almal doodgemaak nie, julle Israeliete wat die nageslag van Jakob is.

7. Van die tyd toe julle voorvaders gelewe het, was julle nie gehoorsaam nie, julle het nie gedoen wat Ek vir julle gesê het nie.”Die Here wat oor alles regeer, sê: “Kom terug na My toe, dan sal Ek terugkom na julle toe. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkom?’ ”

Julle steel van My

8. Die Here vra vir julle: “Mag ’n mens iets van God steel? Julle steel van My, maar julle vra: ‘Hoe het ons van U gesteel?’ Julle steel wanneer julle nie al die tiendes en die presente bring wat julle moet gee nie.

9. Ek het opgehou om julle te seën, maar julle hou aan om van My te steel. Al die Israeliete doen dit.”

10. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet al julle tiendes na die tempel bring sodat daar kos in my tempel kan wees. Julle moet My toets en kyk of Ek julle sal seën. Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en vir julle baie reën gee, meer as genoeg.

11. Ek sal die sprinkane wegjaag sodat hulle nie meer julle koring opvreet nie, en die druiwe in julle wingerde sal nie meer afval nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

12. “Al die volke sal dink dat julle gelukkige mense is, want julle sal ’n wonderlike land hê. Die ander mense sal graag julle land wil hê.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

Daar was ’n boek voor die Here

13. Die Here sê: “Julle het lelike dinge van My gesê. Maar julle vra: ‘Wat het ons van U gesê?’

14. Julle het gesê: ‘As ’n mens vir God dien, dan help dit niks. Het dit gehelp toe ons gehoorsaam was en alles gedoen het wat God gesê het? Nee. Het dit gehelp toe ons gewys het ons is jammer oor wat ons gedoen het en toe ons geloop het soos mense wat by ’n begrafnis treur? Nee. Dit het ons gedoen vir die Here wat oor alles regeer.

15. Nou dink ons die hoogmoedige mense is gelukkig, ons dink dit gaan goed met die mense wat verkeerd doen. Hulle is opstandig teen God en God straf hulle nie.’ ”

16. Die mense wat die Here eer, het toe daaroor met mekaar gepraat, en die Here het gehoor wat hulle sê. Daar was ’n boek voor die Here. Hy het in die boek al die name geskryf van die mense wat Hom eer.

17. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Hierdie mense sal Myne wees op daardie dag wanneer Ek doen wat Ek wil doen. Hulle sal aan My behoort. Ek sal hulle nie straf nie, soos ’n pa sy seun nie straf as hy gehoorsaam is aan hom nie.

18. Dan sal julle sien wie doen reg en wie doen verkeerd, julle sal sien wie dien God en wie dien Hom nie.”