hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 1 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het gepraat. Hy het met die Israeliete gepraat. Hy het Maleagi gestuur om vir hulle ’n boodskap te bring.

Ek was lief vir Jakob maar Ek het nie van Esau gehou nie

2. Die Here sê:“Israeliete, Ek is liefvir julle.Maar julle vra vir My:‘Hoe is U lief vir ons?’ ”Die Here sê: “Esau was Jakob se broer. Ek was lief vir Jakob

3. maar Ek het nie van Esau gehou nie. Ek het Esau se nageslag, die Edomiete, weggevat van die berge waar hulle gewoon het en Ek het hulle land vir die jakkalse gegee.

4. Die Edomiete sê: ‘Ons stede is verwoes, ons huise is nou net hope klippe, maar ons sal weer huise bou.’“Maar dan sê Ek, die Here wat oor alles regeer: Hulle kan huise bou, maar Ek sal dit weer afbreek. Die mense sal sê die Edomiete se land is die land waar die slegte mense gewoon het, en die Here sal altyd kwaad bly vir hulle.

5. Israeliete, julle sal dit self sien, en julle sal sê: ‘Die Here is groot en sterk, ook buite die land Israel.’ ”

Hoekom eer julle My nie?

6. Die Here wat oor alles regeer, sê:“’n Seun eer sy pa, en ’n slaaf eer die man aan wie hy behoort. As Ek julle Vader is, hoekom eer julle My nie? As julle aan My behoort, hoekom respekteer julle My nie? Julle priesters het my Naam nie gerespekteer nie. Maar julle vra: ‘Hoe het ons u Naam nie gerespekteer nie?’

7. “Julle bring onrein offers na my altaar, en dan vra julle: ‘Hoekom sê U ons dink U is onrein? Wat het ons gedoen?’“Julle doen dit wanneer julle sê julle respekteer nie die Here se altaar nie.

8. Julle bring blinde diere om vir My te offer. Dink julle dit is reg? Dit is verkeerd. Julle offer vir My siek of lam diere. Dit is ook verkeerd. Wat sal gebeur as julle ’n siek of ’n lam dier gaan gee vir iemand wat oor julle regeer? Sal hy daarvan hou en vriendelik wees met julle? Nee.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

9. “Julle sê: ‘As God nie vriendelik is met ons nie, dan moet ons iets doen sodat Hy weer vriendelik kan wees met ons.’“Maar as julle hierdie verkeerde dinge doen, dan sal Hy nie vriendelik wees met julle nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

10. “Dit sal beter wees as een van julle die tempel se deure toesluit en die vuur op die altaar doodmaak, want dit help niks dat die vuur brand nie. Ek hou nie van julle nie en Ek wil nie ’n offer van julle hê nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

11. “Al die volke op die hele aarde dien My, en die mense bring oral vir My offers, rein offers. Ja, al die volke dien My.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

12. “Maar julle wat priesters is, julle eer My nie. Julle sê die altaar van die Here is onrein, en julle respekteer nie die offers op die altaar nie.

13. En julle sê dit is harde werk om offers te bring. Julle hou nie daarvan om dit te doen nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.“Julle bring diere wat julle gesteel het of diere wat nie gesond is nie en julle offer dit vir My. Ek wil dit nie hê nie,” sê die Here.

14. “As iemand ’n bul of ’n ram het en hy belowe om dit vir My te offer, maar hy bring ’n os of ’n hamel, dan is hy skelm en Ek vervloek hom. Ek is die Groot Koning, en al die volke eer My.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.