hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 2 Bybel vir Almal (ABA)

Julle was nie gehoorsaam nie

1-2. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Priesters, Ek het gesê julle moet My eer. Ek het gesê as julle nie gehoorsaam is nie, dan sal Ek julle vervloek, Ek sal julle nie meer seën nie. Julle was nie gehoorsaam nie, daarom het Ek opgehou om julle te seën.

3. Julle sal nie meer kinders kan kry nie en julle sal onrein word. Ek sal die mis uit die diere se pense in julle gesigte gooi, die diere wat julle vir My offer. Die mense sal julle wegdra na die vuilgoedhoop, en julle sal onrein wees.

4. Dan sal julle weet Ek het gesê wat julle moet doen. Dit was my verbond met Levi, julle voorvader.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

5. “Ek het ’n verbond met Levi gemaak. Ek het belowe dat hy lank sal lewe en dat dit goed sal gaan met hom. Ek het dit alles vir hom gegee, en hy het My gedien en My geëer.

6. Hy het vir die mense geleer wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy het vir hulle reg geleer, nie verkeerd nie. Hy het naby My gelewe en gedoen wat Ek wil hê hy moet doen. Hy het baie mense gehelp om hulle sonde te los.

7. Ja, ’n priester moet weet wat om te sê. Hy moet vir die mense sê wat is reg en wat is verkeerd, want hy bring vir hulle die boodskap van die Here wat oor alles regeer.

8. Maar julle wat priesters is, julle volg My nie meer nie. Julle het vir baie mense geleer om verkeerd te doen. Julle het die verbond gebreek wat Ek met Levi gemaak het.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

9. “Ek sal julle nou straf. Die mense sal julle nie meer respekteer nie, want julle was nie gehoorsaam aan My nie. Party mense het verkeerd gedoen, maar julle het gesê hulle het reg gedoen.”

Die mense van Juda het nie gedoen wat hulle belowe het nie

10. Ons het almal een Vader, een God het ons almal gemaak! Hoekom doen mense nie wat hulle vir mekaar belowe het nie en hoekom breek hulle die verbond wat God met ons voorvaders gemaak het?

11. Die mense van Juda het nie gedoen wat hulle belowe het nie. Hulle het ’n baie verkeerde ding gedoen in die land Israel, in Jerusalem. Ja, hulle het die Here se tempel ontwy, die Here is lief vir die tempel. Mans het getrou met vroue wat gode van ander volke dien.

12. Die Here sal elkeen wat dit doen, afsny van die Israeliete. Hy sal nie meer offers vir die Here kan bring nie, die Here wat oor alles regeer.

13. Julle doen nóg iets wat verkeerd is: Julle staan en huil by die altaar van die Here, omdat Hy nie meer julle offers wil hê nie.

14. En julle vra: “Hoekom wil U nie meer ons offers hê nie?”Dit is omdat die Here weet julle het nie gedoen wat julle belowe het toe julle met julle vroue getrou het nie. Elke man het belowe sy vrou sal sy maat wees wat altyd by hom sal bly, maar julle het nou julle beloftes gebreek.

15. God het jou en jou vrou so gemaak dat julle soos een mens moet wees. God maak die liggaam en die gees van die mens. Hoekom? Omdat God wil hê julle moet kinders kry wat Hom dien. Julle moenie julle beloftes breek wat julle aan julle vroue gemaak het nie.

16. Die Here, die God van die Israeliete, sê Hy haat dit wanneer mans van hulle vroue skei. Die Here wat oor alles regeer, sê Hy haat dit wanneer mans wreed is met hulle vroue. Julle moet doen wat julle vir julle vroue belowe het.

Julle het die Here moeg gemaak

17. Die Here is moeg om te hoor wat julle sê. Maar julle vra: “Wat het ons gesê wat die Here moeg gemaak het?”Julle het Hom moeg gemaak toe julle gesê het: “Die Here hou van mense wat verkeerd doen,” en toe julle gevra het: “Waar is die God wat moet kyk dat mense reg doen?”