hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob maak reg om Esau te

ontmoet

1. Jakob het sy reis voortgesit en engele van God het hom tegemoetgekom.

2. Toe Jakob hulle sien, roep hy uit: “Dit is God se leër!” Hy het toe die plek Maganajim genoem.

3. Hierna stuur Jakob boodskappers na sy broer Esau in Edom, in die landstreek Seïr.

4. Hy sê vir hulle: “Gee die volgende boodskap vir my meneer, my broer Esau: ‘Groete van u dienaar Jakob! Ek het tot onlangs by my oom Laban gewoon.

5. Nou besit ek beeste, donkies, kleinvee en baie slawe en slavinne. Ek stuur hierdie boodskappers om Meneer in kennis te stel dat ek op pad terug is. Ek hoop dat u ons vriendelik sal ontvang.’”

6. Die boodskappers het teruggekom met die nuus dat hulle by Esau was. Hulle het gesê: “Esau is reeds op pad om u te ontmoet met 400 manskappe by hom!”

7. Jakob het baie beangs geword toe hy dié nuus hoor. Hy verdeel toe sy mense, die kleinvee, beeste en die kamele in twee groepe.

8. Hy het gedink: “As Esau een groep aanval, kan die ander groep dalk ontsnap.”

9. Toe bid Jakob: “God van my oupa Abraham en my pa, Isak! Here, U het gesê ek moet teruggaan na my land en my familie toe. U het belowe dat U vir my goed sal wees.

10. Ek is nie al die gunste wat U vir u dienaar gedoen het, werd nie. Toe ek destyds oor die Jordaan gegaan het, het ek net ’n stapstok besit. Nou het ek hierdie twee groepe mense!

11. Here, red my tog asseblief uit die hand van my broer Esau. Ek is bang dat hy kom om my, my vroue en my kinders dood te maak.

12. U het tog mos belowe om vir my goed te wees en om my nageslag te vermeerder sodat hulle so baie sal wees soos die sand by die see – te veel om te tel.”

13. Jakob het die nag daar oorgebly en ’n geskenk vir Esau uit sy besittings gereed gekry.

14. Dit was 200 bokooie en twintig ramme, 200 skaapooie en twintig ramme,

15. 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.

16. Hy het sy slawe beveel om met hulle vooruit te trek, elke groep diere apart, geskei met ’n afstand tussen hulle.

17. Hy het die voorste groep beveel: “Wanneer julle Esau teëkom, sal hy vra: ‘Waarheen gaan julle? Wie se slawe is julle? Wie se diere is dit hierdie?’

18. Dan moet julle antwoord: ‘Dit behoort aan u dienaar Jakob. Dit is ’n geskenk vir sy meester Esau! Hy kom direk agter ons aan.’”

19. Jakob het dieselfde bevele aan die tweede en die derde groep gegee – en aan elkeen wat saam met ’n trop diere getrek het. “Julle moet elkeen so vir Esau sê:

20. ‘U dienaar Jakob kom direk agter ons aan.’” Jakob se plan was om Esau met die geskenke te paai voordat hulle mekaar ontmoet. “Dalk sal hy dan in ’n goeie bui wees,” het Jakob gehoop.

21. So is die geskenke vooruit gestuur, maar Jakob het die aand in die kamp agtergebly.

Jakob worstel met die engel van

God

22. Gedurende die nag het Jakob opgestaan en sy twee vroue, twee slavinvroue en elf seuns geneem en hulle deur die Jabbokdrif gestuur.

23. Nadat hy hulle na die oorkant toe laat gaan het, stuur hy ook al sy besittings deur.

24. Hy het daar alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei tot dagbreek toe.

25. Toe die man sien dat hy hom nie kom onderkry nie het hy Jakob op sy heup geslaan sodat dit uit die potjie spring.

26. Toe sê die man: “Los my nou, die dag begin al breek.”Uitasem sê Jakob: “Ek sal jou net laat gaan as jy my seën.”

27. “Wat is jou naam?” vra die man. Hy antwoord: “Jakob.”

28. “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,” sê die man vir hom. “Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.”

29. “Wat is jóú naam dan?” vra Jakob hom.“Hoekom vra jy wat my naam is?” antwoord die man. Toe seën hy Jakob net daar.

30. Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God in die gesig gekyk. Tog is my lewe gespaar.”

31. Die son was besig om op te kom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af het hy gehink as gevolg van sy heup.

32. Dis waarom die Israeliete tot vandag toe nie die heupsening eet nie. Dit is ter herinnering aan wat daardie nag gebeur het.