hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die dood van Abraham

1. Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura.

2. Sy het vir hom die volgende kinders in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag.

3. Joksan se twee seuns was Skeba en Dedan. Die inwoners van Assur, Letus en Leüm was die nageslag van Dedan.

4. Midian se seuns was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense was nasate van Abraham en Ketura.

5. Abraham het alles wat hy besit het aan sy seun Isak nagelaat.

6. Voor sy dood het hy geskenke vir die seuns van sy byvroue gegee en hulle ooswaarts, wég van Isak af, na die land Kedem toe gestuur.

7. Abraham het 175 jaar oud geword.

8. Hy het op ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf.

9. Sy seuns Isak en Ismael het hom in die grot van Makpela begrawe. Dit is naby Mamre en op die grond van Efron, seun van Sogar, die Hetiet.

10. Dit is die stuk grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het en waar hy sy vrou Sara begrawe het.

11. Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het by Lagai-Roï-fontein in die Negev gaan woon.

Ismael se nageslag

12. Nou volg die stamboom van die nageslag van Ismael, die seun van Abraham en Hagar, Sara se Egiptiese slavin.

13. Dit is die name van die seuns en die familiegroepe van Ismael se nageslag. Die oudste seun was Nebajot, gevolg deur Kedar, Adbeël, Mibsam,

14. Misma, Duma, Massa,

15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Hierdie is die seuns van Ismael en ook die name van hulle nedersettings en blyplekke – twaalf heersers van die stamme wat na hulle vernoem is.

17. Ismael was 137 jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.

18. Ismael se nageslag was oor die land versprei vanaf Gawila tot by Sur, oos van Egipte, in die rigting van Assur. Die familiegroepe het in konflik met mekaar gelewe.

Die geboorte van Jakob en Esau

19. Nou volg die besonderhede van die nageslag van Isak, die seun van Abraham.

20. Isak was 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het. Sy was die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van die Arameër Laban.

21. Rebekka was kinderloos. Daarom het Isak by die Here gepleit vir ’n kind. Die Here het sy gebed verhoor en sy vrou het swanger geword.

22. Die twee kinders het in haar teen mekaar gestamp. Sy het gewonder: “Hoekom gebeur so iets met my?” Sy raadpleeg toe die Here.

23. Die Here antwoord haar: “Die twee seuns wat jy verwag, sal twee nasies word wat teen mekaar wedywer. Die een sal sterker wees as die ander. Die nageslag van die oudste sal die nageslag van die jongste dien.”

24. Toe die tyd aanbreek, is die tweeling gebore.

25. Die eerste was by geboorte baie rooierig. Hy was so van die hare oortrek dat dit soos ’n harige kleed gelyk het. Daarom het hulle hom Esau genoem.

26. Sy broer is ná hom gebore terwyl hy die hak van Esau vashou. Toe noem hulle hom Jakob. Isak was 60 jaar oud toe die tweeling gebore is.

Esau verkoop sy eersgeboorte-

reg

27. Die seuns het groter geword. Esau was ’n bekwame jagter, iemand van die veld. Jakob, weer, het verkies om rustig tuis te bly.

28. Isak het ’n voorkeur vir Esau gehad oor die wildsvleis wat hy vir hom gebring het. Rebekka weer, was liewer vir Jakob.

29. Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het doodmoeg van die veld af teruggekom.

30. Esau sê toe vir Jakob: “Gee my tog van daardie rooi goed, want ek wil doodgaan van die honger.” Dis hoe Esau sy ander naam, Edom – wat “rooi” beteken – gekry het.

31. Jakob antwoord hom: “Dis alles goed en wel, maar dan moet jy jou regte as oudste seun in ruil daarvoor gee.”

32. “Wat maak dit eintlik saak,” antwoord Esau, “ek is tog op die punt om van honger te sterf. Wat beteken my eersgeboortereg dan vir my?”

33. Jakob dring egter daarop aan: “Lê ’n eed af dat jou regte nou myne word.” Esau het toe ’n eed afgelê en so sy eersgeboortereg as oudste aan Jakob, die jongste, verkoop.

34. Toe gee Jakob vir Esau brood en sop. Hy het dit geëet en gedrink en weggegaan asof sy eersgeboortereg vir hom niks beteken nie.