hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. So is die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarin is, voltooi.

2. Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het en Hy het op die sewende dag na al sy werk gerus.

3. God het ook die sewende dag geseën. Hy het bepaal dat dit afgesonder moet word van die ander dae omdat Hy op daardie dag gerus het nadat Hy sy skeppingswerk gedoen het.

4. Dit is dan die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde.Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het,

God maak die man en vrou

5. was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die Here God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie.

6. Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak.

7. Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword.

8. Daarna het die Here God ’n tuin in Eden in die ooste geplant. Hy het die mens wat Hy geskape het daarin laat woon.

9. Die Here God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is.

10. ’n Rivier wat in Eden ontspring het, het water na die tuin gebring en daar in vier strome verdeel.

11. Die een, die Pison, loop om die hele land Gawila. Dis die plek wat ryk is aan goud.

12. Die goud is van hoogstaande gehalte en daar is ook balsem en oniks.

13. Die tweede, die Gihon, vloei om die hele land Kus.

14. Die derde een, die Tigris, loop oos van Assirië verby. Die vierde is die Eufraat.

15. Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg.

16. Maar die Here God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet,

17. maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”

18. Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.”

19. Toe het die Here God uit die grond al die verskillende soorte diere en voëls gevorm. Daarop neem Hy hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sou noem. En die mens het vir elkeen ’n naam gegee,

20. vir al die mak diere, die voëls en wilde diere. Hy kon egter onder hulle nie een kry wat soos hy is en vir hom ’n metgesel kon wees nie.

21. Toe het die Here God die mens baie diep laat slaap. Terwyl hy slaap, vat Hy een van die mens se ribbebene en vul die plek weer op met vleis.

22. Van die ribbebeen maak die Here God toe ’n vrou en bring haar na die mens toe.

23. “Uiteindelik is dit die regte metgesel!” sê die mens. “Sy is regtig deel van my. Sy sal ‘vrou’ genoem word, want sy is uit die man geneem.”

24. Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

25. Alhoewel die mens en sy vrou sonder klere was, was hulle nie skaam vir mekaar nie.