hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het gebeur in die vier honderd en tagtigste jaar ná die seuns van Yisra’el uit die land van Mitzrayim uitgekom het, in die vierde jaar van Shlomo se regering oor Yisra’el, in die maand Ziv, dit is die tweede maand, dat hy begin het om die huis van יהוה te bou.

2. Die huis wat koning Shlomo vir יהוה gebou het, was sestig el in sy lengte, twintig in sy breedte en dertig el in sy hoogte.

3. Die buiteportaal, aan die voorkant van die hoofdeel van die huis, was twintig el in sy lengte, ooreenstemmend met die breedte van die huis en tien el diep aan die voorkant van die huis.

4. Hy het ook vir die huis vensters gemaak met kunstige rame.

5. Teen die muur van die huis het hy verdiepings gebou reg rondom die mure van die huis, rondom die hoof vertrek en die binneste vertrek; so het hy sykamers reg rondom gemaak.

6. Die onderste verdieping was vyf el breed, die middelste ses el breed en die derde sewe el breed, want hy het insnydings in die muur van die huis reg rondom gemaak sodat die balke nie in die mure van die huis ingevoeg word nie.

7. Die huis, in die bou daarvan, is gebou met klippe wat klaar voorberei is by die breekplek en daar was geen hamer, byl of enige ystergereedskap, in die huis gehoor terwyl dit gebou is nie.

8. Die ingang vir die onderste sykamer was aan die regterkant van die huis en hulle sou opgaan met wenteltrappe na die middelste en van die middelste na die derde.

9. Hy het die huis gebou en dit klaar gemaak en hy het die huis bedek met balke en planke van sederhout.

10. Hy het ook bykomende kamers vas teen die hele huis gebou; elkeen was vyf el hoog en hulle was vas aan die huis met balke van seder.

11. Die woord van יהוה het tot Shlomo gekom en gesê:

12. “Aangaande hierdie huis wat jy besig is om te bou, as jy in My wette loop en My verordeninge uitvoer en al My opdragte hou deur daarin te loop, dan sal Ek My woord uitvoer wat Ek met jou vader Dawid gepraat het.

13. Ek sal tussen die seuns van Yisra’el bly en My volk Yisra’el nie in die steek laat nie.”

14. Shlomo het die huis gebou en dit voltooi.

15. Toe het hy die mure van die huis aan die binnekant gebou met planke van seder; van die vloer van die huis af tot by die plafon het hy dit van binne met hout oordek en die vloer van die huis het hy met planke van sipres oorgetrek.

16. Hy het twintig el aan die agterkant van die huis met planke van seder gebou, van die vloer af tot by die plafon; hy het dit aan die binnekant as ’n binnevertrek gebou, as ’n Mees Afgesonderde plek.

17. Die huis, dit is die hoofvertrek voor, was veertig el lank.

18. Daar was sederhout aan die huis se binnekant: graveerwerk in die vorm van kalbasse en oop blomme; alles was sederhout, geen klip was te sien nie.

19. Toe het hy die binnevertrek binne-in die huis voorberei om die ark van die verbond van יהוה daar te sit.

20. Die binnevertrek was twintig el in lengte, twintig el in breedte en twintig el in hoogte en hy het dit oorgetrek met suiwer goud. Hy het ook die altaar met sederhout oorgetrek.

21. Shlomo het die huis van binne met suiwer goud oorgetrek en hy het goue kettings gemaak voor die binnevertrek, wat hy met goud oorgetrek het.

22. Hy het die hele huis met goud oorgetrek totdat die hele huis voltooi was. Ook die hele altaar wat by die binnevertrek hoort, het hy met goud oorgetrek.

23. Hy het ook in die binnevertrek twee gérubs gemaak van olyfhout, elkeen tien el hoog.

24. Die een vlerk van die gerub was vyf el en vyf el die ander vlerk van die gerub; tien el van die punt van een vlerk tot by die end van die ander.

25. Die ander gerub was tien el; altwee die gérubs was van een maat en een vorm.

26. Die hoogte van die een gerub was tien el en net so die ander gerub.

27. Hy het die gérubs in die middel van die binnevertrek gesit en die vlerke van die gérubs was uitgesprei sodat die vlerk van die een aan die een muur en die vlerk van die ander gerub aan die ander muur raak terwyl hulle vlerke in die middel van die vertrek aan mekaar raak.

28. Hy het ook die gérubs met goud oorgetrek.

29. Toe het hy al die mure van die huis rondom, die binne- en die buitevertrek, met figure van gérubs, palmbome en oop blomme laat ingraveer.

30. Hy het die vloer van die huis, die binne- en buitevertrek, met goud oorgetrek.

31. Vir die ingang van die binnevertrek het hy deure van olyfhout gemaak. Die latei en die deurraam was ‘n vyfde van die muur.

32. Hy het twee deure gemaak van olyfhout en daarop het hy figure van gérubs, palmbome en oop blomme laat ingraveer en dit met goud oorgetrek en hy het die goud oor die gérubs en die palmbome uitgespan.

33. So het hy ook vir die ingang van die hoofvertrek vierkantige deurrame van olyfhout gemaak

34. en twee deure van sipreshout; die twee blaaie van die een deur het op draaipunte gedraai en die twee blaaie van die ander deur op draaipunte.

35. Hy het gérubs, palmbome en oop blomme daarop ingraveer en dit met goud, eweredig versprei oor die graveerwerk, oorgetrek.

36. Hy het die binnehof gebou met drie rye gekapte klip en ’n ry sederbalke.

37. In die vierde jaar is die fondament van die huis van יהוה gelê, in die maand Ziv.

38. In die elfde jaar, in die maand van Bul, dit is die agtste maand, is die huis voltooi in al sy dele en volgens al sy planne. Hy het sewe jaar lank daaraan gebou.