hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ben-Hadad, koning van Aram, het sy hele leër bymekaargemaak en daar was twee en dertig konings saam met hom, met perde en strydwaens en hy het opgetrek en Shomron beleër en daarteen geveg.

2. Toe het hy boodskappers na Ag’av, die koning van Yisra’el, in die stad gestuur en vir hom gesê: “So sê Ben-Hadad:

3. ‘U silwer en u goud is myne; u mooiste vroue en kinders is ook myne.’”

4. Die koning van Yisra’el antwoord: “Dit is volgens u woord, my meester die koning; ek is u s’n en alles wat ek het!”

5. Toe kom die boodskappers terug en sê: “So sê Ben-Hadad: ‘Verseker het ek gestuur en vir u gesê: “U moet u silwer, u goud, u vroue en u kinders vir my gee,”

6. maar omtrent hierdie tyd môre sal ek my diensknegte na u toe stuur en hulle sal u huis en die huise van u diensknegte deursoek en hulle sal alles wat begeerlik is in u oë, in hulle hand sit en wegdra.’”

7. Toe roep die koning van Yisra’el al die oudstes van die land en sê: “Kyk asseblief en sien hoe hierdie man moeilikheid soek, want hy het na my toe gestuur vir my vroue, my kinders, my silwer en my goud en ek het hom nie geweier nie.”

8. Al die oudstes en al die mense antwoord hom: “Moenie luister of inwillig nie.”

9. Hy het vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir my meester die koning: ‘Alles waarvoor u die eerste keer na u dienskneg gestuur het, sal ek doen, maar hierdie ding kan ek nie doen nie.” Die boodskappers het weggegaan en weer vir hom ’n antwoord gebring.

10. Ben-Hadad het gestuur en vir hom gesê: “Mag die gode so aan my doen en ook meer, as die stof van Shomron genoeg sal wees vir ’n handvol aan elke man wat my volg!”

11. Toe antwoord die koning van Yisra’el: “Sê vir hom: ‘Laat die een wat sy wapenrusting aantrek nie roem soos een wat dit uittrek nie.’”

12. Toe hy hierdie boodskap hoor terwyl hy besig was om te drink saam met die konings in die tydelike skuilings, sê hy vir sy diensknegte: “Neem posisie in!” Hulle het posisie ingeneem teen die stad.

13. Nou let op, ’n profeet het Ag’av, die koning van Yisra’el, genader en gesê: “So sê יהוה: ‘Het jy hierdie hele groot menigte gesien? Let op, Ek lewer hulle vandag in jou hand oor en jy sal weet dat Ek יהוה is.’”

14. Ag’av sê: “Deur wie?” Hy antwoord: “So sê יהוה: ‘Deur die jongmanne van die heersers van die provinsies.’” Hy sê: “Wie moet die geveg begin?” Hy antwoord: “U.”

15. Toe roep hy die jongmanne van die heersers van die provinsies op en hulle was twee honderd twee en dertig en ná hulle roep hy al die manne op, al die seuns van Yisra’el: sewe duisend.

16. Hulle het op die middag uitgegaan terwyl Ben-Hadad homself dronk gedrink het in die tydelike skuilings, saam met die twee en dertig konings wat hom gehelp het.

17. Die jongmanne van die heersers van die provinsies het eerste uitgegaan en Ben-Hadad het uitgestuur en hulle het hom berig gebring en gesê: “Manne het uit Shomron gekom.”

18. Toe sê hy: “As hulle vir vrede uitgekom het, gryp hulle lewendig; of as hulle vir oorlog uitgekom het, gryp hulle lewendig.”

19. So het hulle, die jongmanne van die heersers van die provinsies, uit die stad uitgegaan en die leër wat hulle volg.

20. Hulle het elkeen sy man doodgemaak en die Arameërs het gevlug en Yisra’el het hulle agtervolg en Ben-Hadad, koning van Aram, het ontsnap op ’n perd saam met perderuiters.

21. Die koning van Yisra’el het uitgegaan en perde en strydwaens neergeslaan en die Arameërs doodgemaak in ’n groot slagting.

22. Toe kom die profeet na die koning van Yisra’el en sê vir hom: “Gaan, versterk uself en ondersoek en kyk wat u moet doen, want met die draai van die jaar sal die koning van Aram teen u opkom.”

23. Die diensknegte van die koning van Aram het vir hom gesê: “Hulle gode is gode van die berge; daarom was hulle sterker as ons, maar laat ons eerder teen hulle baklei op die vlakte en ons sal sekerlik sterker wees as hulle.

24. Doen daarom dit: verwyder die konings, elkeen uit sy plek en sit bevelvoerders in hulle plek

25. en maak ’n leër bymekaar soos die leër wat u verloor het, perd vir perd, strydwa vir strydwa. Dan sal ons teen hulle in die vlakte veg en ons sal sekerlik sterker wees as hulle.” Hy het na hulle stem geluister en so gedoen.

26. Met die draai van die jaar het Ben-Hadad die Arameërs bymekaar gebring en opgegaan na Afek om teen Yisra’el te veg.

27. Die seuns van Yisra’el was saamgetrek, van lewensmiddele voorsien en het gegaan om hulle te ontmoet en die seuns van Yisra’el het teenoor hulle gekamp soos twee troppies bokke, maar die Arameërs het die land gevul.

28. Toe kom ’n man van God nader en praat met die koning van Yisra’el en sê: “So sê יהוה: ‘Omdat die Arameërs gesê het: "יהוה is ’n god van die berge, maar Hy is nie ’n god van die valleie nie,”’ sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee en jy sal weet dat Ek יהוה is.”

29. Hulle het vir sewe dae lank teenoor mekaar gekamp en op die sewende dag het die geveg begin en die seuns van Yisra’el het ’n honderd duisend voetgangers van die Arameërs op een dag verslaan,

30. maar die res het na Afek, in die stad in gevlug en die muur het op sewe en twintig duisend man wat oor was geval. Ben-Hadad het gevlug en in die stad, in ’n binnekamer gekom.

31. Sy diensknegte sê vir hom: “Let op, ons het gehoor dat die konings van die huis van Yisra’el genadige konings is; laat ons asseblief rouklere om ons heupe bind en toue om ons koppe en uitgaan na die koning van Yisra’el; miskien sal hy u lewe spaar.”

32. Hulle het rouklere om hul heupe vasgebind en toue om hul koppe en na die koning van Yisra’el gekom en gesê: “U dienskneg Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’” Hy antwoord: “Lewe hy dan nog? Hy is my broer.”

33. Die manne het dit as ’n voorteken gevat en sy woord opgevang en gesê: “Ben-Hadad, u broer!” Toe sê hy: “Gaan, bring hom.” Ben-Hadad het uitgekom na hom toe en hy het hom op die strydwa laat klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee en u kan vir u strate aanlê in Dammesek soos my vader in Shomron aangelê het.” Ag’av het gesê: “Ek sal u met hierdie verbond laat gaan.” Hy het met hom ’n verbond aangegaan en hom laat gaan.

35. ’n Sekere man uit die profete-seuns het deur die woord van יהוה vir ’n ander gesê: “Slaan my asseblief!” Die man het egter geweier om hom te slaan.

36. Toe sê hy vir hom: “Omdat jy nie na die stem van יהוה geluister het nie, let op, sodra jy van my af weggaan, sal ’n leeu jou doodmaak.” Toe hy van hom af weggaan, het ’n leeu hom gekry en hom doodgemaak.

37. Toe het hy ’n ander man gekry en gesê: “Slaan my asseblief!” Die man het hom geslaan en hom beseer.

38. Toe vertrek die profeet en wag vir die koning op die pad en vermom homself met ’n verband oor sy oë.

39. Soos die koning verbygaan, roep hy uit na die koning en sê: “U dienskneg het uitgegaan in die middel van die geveg en let op, daar kom iemand eenkant toe en bring ’n man na my toe en sê: ‘Bewaak hierdie man; as hy vir enige rede wegraak, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of anders moet jy ’n talent silwer betaal.’

40. Terwyl u dienskneg hier en daar besig was, het hy verdwyn. Die koning van Yisra’el sê vir hom: “So sal jou vonnis wees: jy het dit self bepaal.”

41. Toe vat hy gou die verband van sy oë af en die koning van Yisra’el herken hom as een van die profete.

42. Hy sê vir hom: “So sê יהוה: ‘Omdat jy die man wat Ek tot vernietiging bedoel het, uit jou hand laat gaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees en jou mense in die plek van sy mense.”

43. Die koning van Yisra’el het na sy huis toe gegaan, stuurs en vererg en by Shomron gekom.