hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het gebeur na baie dae dat die woord van יהוה in die derde jaar tot Eliyahu gekom en gesê het: “Gaan, wys jouself aan Ag’av en Ek sal reën gee op die aarde.”

2. Eliyahu het gegaan om homself aan Ag’av te wys. Die hongersnood was swaar in Shomron.

3. Ag’av het vir `Ovadyah, wat oor die huishouding was, geroep. `Ovadyah het יהוה baie respekvol gevrees,

4. want toe Izevel die profete van יהוה vernietig het, het `Ovadyah ’n honderd profete gevat en hulle in groepe van vyftig in ’n grot weggesteek en hulle van brood en water voorsien.

5. Toe het Ag’av vir `Ovadyah gesê: “Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die valleie; miskien sal ons gras kry en die perde en muile aan die lewe hou en nie van die vee hoef dood te maak nie.”

6. Hulle het die land tussen hulle verdeel om deur dit te trek; Ag’av het alleen in een rigting gegaan en `Ovadyah ’n ander pad op sy eie.

7. Terwyl `Ovadyah op pad was, let op, ontmoet Eliyahu hom en hy het hom herken en op sy gesig neergeval en gevra: “Is dit u, Eliyahu, my meester?”

8. Hy sê vir hom: “Dit is ek; gaan sê vir jou meester: ‘Let op, Eliyahu is hier.’”

9. Hy sê: “Watter sonde het ek gesondig dat u u dienaar oorgee in die hand van Ag’av om my dood te maak?

10. So waar as יהוה, u God, leef, daar is geen nasie of koninkryk waarheen my meester nie gestuur het om na u te soek nie en as hulle sê: ‘Hy is nie hier nie,’ dan het hy die koninkryk en die nasie laat sweer dat hulle u nie kon kry nie.

11. Nou beveel u en sê: ‘Gaan sê vir jou meester: “Let op, Eliyahu is hier!”’

12. Dit sal gebeur as ek u verlaat dat die Gees van יהוה u sal wegdra na waar ek nie weet nie; as ek kom en Ag’av vertel en hy u nie kan vind nie, sal hy my doodmaak, alhoewel ek, u dienskneg יהוה respekvol vrees van my jeug af.

13. Is dit nie aan my meester vertel wat ek gedoen het toe Izevel die profete van יהוה doodgemaak het nie; dat ek ’n honderd van die profete van יהוה, in groepe van vyftig, in ’n grot weggesteek en hulle van brood en water voorsien het nie?

14. Nou sê u: ‘Gaan sê vir jou meester: “Let op, Eliyahu is hier!” Hy sal my dan doodmaak!’

15. Eliyahu sê: “So waar as יהוה-Tzva’ot leef, voor wie se Teenwoordigheid ek staan, ek sal myself sekerlik vandag aan hom wys!”

16. `Ovadyah het Ag’av gaan ontmoet en hom vertel en Ag’av het gegaan om Eliyahu te ontmoet.

17. Toe Ag’av Eliyahu sien, vra Ag’av vir hom: “Is dit jy, jou versteurder van Yisra’el?”

18. Hy antwoord: “Ek het Yisra’el nie versteur nie, maar u en u vader se huis het omdat u die opdragte van יהוה verlaat en die Ba’als gevolg het.

19. Stuur dan nou en laat die hele Yisra’el by my bymekaarkom op die berg Karmel, saam met vier honderd en vyftig profete van Ba’al en vier honderd en vyftig profete van die Asherah wat aan Izevel se tafel eet.”

20. Ag’av het gestuur na al die seuns van Yisra’el en die profete op die berg Karmel bymekaar gebring.

21. Eliyahu het nadergekom na al die mense en gesê: “Hoe lank sal julle aarsel tussen twee opinies? As יהוה God is, volg Hom, maar as Ba’al is, volg hom!” Die mense het hom egter nie ’n woord geantwoord nie.

22. Toe sê Eliyahu vir die mense: “Ek het alleen oorgebly as profeet van יהוה, maar die profete van Ba’al is vier honderd en vyftig man.

23. Laat hulle nou vir ons twee jong bulle gee en laat hulle vir hulself een jong bul uitkies en dit in stukke opsny en op die hout sit, maar geen vuur maak nie en ék sal die ander jong bul gereed maak en op die hout sit en ek sal geen vuur maak nie.

24. Dan doen julle ’n beroep op die karakter en outoriteit van julle god en ék op die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה en die God wat met vuur antwoord, Hy is God. Al die mense het geantwoord en gesê: “Dit is ’n goeie woord.”

25. Eliyahu het vir die profete van Ba’al gesê: “Kies vir julleself een jong bul en berei dit eerste voor, want julle is baie en beroep julle op die karakter en outoriteit van julle god, maar maak geen vuur nie.”

26. Toe vat hulle die jong bul wat vir hulle gegee is en berei dit voor en roep die naam (karakter en outoriteit) van Ba’al aan vanaf die oggend tot die middag en sê: “O Ba’al, antwoord ons!” Daar was egter geen stem en niemand het geantwoord nie. Hulle het rondom die altaar, wat hulle gebou het, gespring.

27. Dit het op die middag gebeur dat Eliyahu met hulle gespot en gesê het: “Roep met ’n harde stem, want hy is ’n god! Hy is seker besig of hy het eenkant toe gegaan, of hy is seker op reis, of miskien slaap hy en moet wakker gemaak word.”

28. Hulle het met ’n harde stem geroep en hulleself volgens hul tradisie met swaarde en spiese gesny tot die bloed uit hulle gespuit het.

29. Toe die middag verby is, het hulle geraas tot op die tyd van die aandoffer, maar daar was geen stem, niemand het geantwoord nie en niemand het aandag gegee nie.

30. Toe sê Eliyahu vir al die mense: “Kom nader aan my.” Al die mense het nadergekom na hom toe en hy het die altaar van יהוה herstel wat afgebreek is.

31. Eliyahu het twaalf klippe gevat, volgens die getal van die stamme van Ya’akov se seuns tot wie die woord van יהוה gekom het om te sê: “Yisra’el sal jou naam wees.”

32. Met die klippe bou hy ’n altaar in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה en hy het ’n sloot rondom die altaar gemaak, groot genoeg om twee mate saad te hou.

33. Hy het die hout rangskik, die jong bul in stukke gesny en dit bo-op die hout gelê.

34. Hy het gesê: “Maak vier kruike vol water en gooi dit op die brandoffer en op die hout.” Hy het ook gesê: “Doen dit ’n tweede keer.” Hulle het dit ’n tweede keer gedoen. Hy sê weer: “Doen dit vir ’n derde keer.” Hulle het dit vir ’n derde keer gedoen.

35. Die water het rondom die altaar gevloei en hy het ook die sloot vol water gemaak.

36. Op die tyd dat die aandoffer geoffer word, het die profeet Eliyahu nadergekom en gesê: “יהוה, God van Avraham, Yitz’gak en Yisra’el, laat dit vandag bekend wees dat U God in Yisra’el is en dat ek U dienskneg is en dat ek al hierdie dinge volgens U woord gedoen het.

37. Antwoord my, יהוה, antwoord my sodat hierdie volk kan weet dat U, יהוה, God is en dat U hulle verstand, wil en emosie weer teruggedraai het.”

38. Toe het die vuur van יהוה neergeval en die brandoffer, die hout, die klippe en die stof verteer en die water wat in die sloot was, opgelek.

39. Toe al die mense dit sien, het hulle op hul gesig neergeval en gesê: “יהוה, Hy is God, יהוה, Hy is God.”

40. Toe sê Eliyahu vir hulle: “Gryp die profete van Ba’al; moenie dat een van hulle ontsnap nie.” Hulle het hul gegryp en Eliyahu het hulle afgebring na die spruit Kishon en hulle daar doodgeslaan.

41. Toe sê Eliyahu vir Ag’av: “Gaan op, eet en drink, want daar is die gedruis van ’n reënbui!”

42. Ag’av het opgegaan om te eet en te drink, maar Eliyahu het na die top van Karmel gegaan en hy het op die grond afgebuig en sy gesig tussen sy knieë gesit.

43. Hy sê vir sy dienskneg: “Gaan nou op, kyk na die see toe.” Hy het opgegaan en gekyk en gesê: “Daar is niks nie.” Hy sê: “Gaan weer,” sewe keer.

44. Dit het die sewende keer gebeur dat hy sê: “Let op, ’n wolkie so klein soos ’n man se hand kom op uit die see.” Hy sê: “Gaan op, sê vir Ag’av: ‘Berei jou strydwa voor en gaan af sodat die reënbui jou nie stop nie.’”

45. In ’n kort tydjie het die hemel swart geword van wolke en wind en daar was ’n groot reënbui en Ag’av het gery en na Yizre’el gegaan.

46. Toe was die hand van יהוה oor Eliyahu en hy het sy heupe vasgebind en Ag’av verby gehardloop na Yizre’el.