hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Drie jaar het verbygegaan sonder oorlog tussen Aram en Yisra’el.

2. In die derde jaar het Y’hoshafat, die koning van Y’hudah, afgekom na die koning van Yisra’el.

3. Die koning van Yisra’el vra vir sy diensknegte: “Weet julle dat Ramot-Gil’ad aan ons behoort en dat ons steeds niks doen om dit uit die hand van die koning van Aram te vat nie?”

4. Hy sê vir Y’hoshafat: “Sal u saam met my gaan om te veg by Ramot-Gil’ad?” Y’hoshafat antwoord die koning van Yisra’el: “Ek is soos u is, my volk soos u volk, my perde soos u perde.”

5. Y’hoshafat sê verder ook vir die koning van Yisra’el: “Vra asseblief eers vir die woord van יהוה.”

6. Toe maak die koning van Yisra’el die profete bymekaar, omtrent vier honderd man en sê vir hulle: “Sal ek teen Ramot-Gil’ad gaan om te veg of nie?” Hulle antwoord: “Gaan op, want יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

7. Y’hoshafat sê egter: “Is daar nie nog ’n profeet van יהוה sodat ons deur hom kan vra nie?”

8. Die koning van Yisra’el antwoord Y’hoshafat: “Daar is nog een man deur wie ons by יהוה kan vra, maar ék haat hom omdat hy nie goed oor my profeteer nie, maar boosheid; Mikhay’hu, die seun van Yimlah.” Y’hoshafat sê egter: “Laat die koning nie so praat nie!”

9. Toe roep die koning van Yisra’el ’n amptenaar en sê: “Bring gou vir Mikhay’hu, die seun van Yimlah.”

10. Die koning van Yisra’el en Y’hoshafat, koning van Y’hudah, het by die dorsvloer by die ingang van die poort van Shomron, elkeen op sy troon gesit, aangetrek in hulle koninklike klere en al die profete het voor hulle profeteer.

11. Toe het Tzidkiyah, die seun van ’n Kena’anitiese vrou, vir homself ysterhorings gemaak en gesê: “So sê יהוה: ‘Hiermee sal u die Arameërs deurboor totdat hulle verteer is.’”

12. Al die profete het so geprofeteer en gesê: “Gaan op na Ramot-Gil’ad en wees voorspoedig, want יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

13. Toe praat die boodskapper wat gegaan het om Mikhay’hu te roep en sê vir hom: “Let nou op, die woorde van die profete is eenvormig gunstig vir die koning. Laat u woorde asseblief wees soos die woorde van een van hulle en praat gunstig.”

14. Mikhay’hu sê egter: “So waar as יהוה leef, wat יהוה vir my sê, dit sal ek sê!”

15. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: “Mikhay’hu, sal ons na RamotGil’ad gaan om te veg, of sal ons dit laat staan?” Hy antwoord hom: “Gaan op en wees suksesvol en יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

16. Toe sê die koning vir hom: “Hoeveel maal moet ek jou laat sweer dat jy niks anders as die waarheid in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה tot my moet praat nie?”

17. Toe sê hy: “Ek het die hele Yisra’el verstrooid gesien op die berge soos skape wat geen herder het nie en יהוה het gesê: ‘Hulle het geen meester nie; laat elkeen van hulle teruggaan na sy huis in vrede.’”

18. Toe sê die koning van Yisra’el vir Y’hoshafat: “Het ek u nie gesê dat hy nie goed aangaande my sal profeteer nie, maar boosheid?”

19. Mikhay’hu sê: “Daarom, hoor die woord van יהוה. Ek het יהוה sien sit op Sy troon en al die hemelse leërskare wat by Hom staan, aan Sy regter- en aan Sy linkerkant.

20. יהוה het gesê: ‘Wie sal Ag’av verlei om op te gaan en te val by Ramot-Gil’ad?’ Een het so gesê en die ander weer anders.

21. Toe kom ’n gees vorentoe en staan voor יהוה en sê: ‘Ek sal hom verlei.’

22. יהוה vra vir hom: ‘Hoe?’ Hy sê: ‘Ek sal uitgaan en ’n misleidende gees wees in die mond van al sy profete.’ Toe sê Hy: ‘Jy moet hom verlei en ook oorwin; gaan en doen so;’

23. daarom, let op, יהוה het ’n misleidende gees in die mond van al hierdie profete van u gegee en יהוה het tragedie oor u verklaar.”

24. Toe kom Tzidkiyah, die seun van ’n Kena’anitiese vrou, nader en slaan vir Mikhay’hu op die wang en sê: “Hoe het die Gees van יהוה van my af weggegaan om met jou te praat?”

25. Mikhay’hu antwoord: “Let op, jy sal dit sien op daardie dag dat jy ’n binnekamer ingaan om jouself weg te steek.”

26. Toe sê die koning van Yisra’el: “Vat vir Mikhay’hu terug na Amon, die goewerneur van die stad en Yo’ash, die seun van die koning

27. en sê: ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis en voer hom met brood en water van verdrukking (spaarsamig) totdat ek veilig terugkom.’”

28. Mikhay’hu sê: “As u wel veilig terugkom, dan het יהוה nie deur my gepraat nie. Luister, al julle mense!”

29. Die koning van Yisra’el en Y’hoshafat, koning van Y’hudah, het opgegaan teen Ramot-Gil’ad.

30. Die koning van Yisra’el het vir Y’hoshafat gesê: “Ek sal my vermom en in die geveg ingaan, maar trek ú klere aan.” So het die koning van Yisra’el homself vermom en in die geveg ingegaan.

31. Die koning van Aram het die twee en dertig bevelvoerders oor sy strydwaens bevel gegee en gesê: “Moenie met klein of groot veg nie, maar net met die koning van Yisra’el alleen.”

32. Toe die bevelvoerder van die strydwaens Y’hoshafat sien, het hulle gesê: “Dit is sekerlik die koning van Yisra’el” en hulle het gedraai om teen hom te veg en Y’hoshafat het uitgeroep.

33. Toe die bevelvoerder van die strydwaens sien dat dit nie die koning van Yisra’el was nie, het hulle teruggedraai agter hom weg.

34. ’n Sekere man het sy boog blindelings gespan en die koning van Yisra’el getref tussen ’n las van die wapenrusting. Hy sê vir die drywer van sy strydwa: “Draai om en vat my uit die geveg uit, want ek is ernstig gewond.”

35. Die geveg het dié dag gewoed en die koning is staande gehou in sy strydwa voor die Arameërs en het teen sonsondergang gesterf en die bloed van die wond het onder in die wa ingeloop.

36. Naby sonsondergang gaan ’n uitroep deur die leër wat sê: “Elke man na sy stad en elke man na sy land!”

37. Die koning is dood en is na Shomron gebring en hulle het die koning in Shomron begrawe.

38. Hulle het die strydwa by die poel van Shomron gewas en die honde het sy bloed opgelek (die hoere het hulleself daar gewas), volgens die woord van יהוה wat Hy gepraat het.

39. Die res van die dade van Ag’av, alles wat hy gedoen het, die ivoorhuis en al die stede wat hy gebou het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

40. Ag’av is neergelê by sy vaders en Agazyah sy seun het in sy plek koning geword.

41. Y’hoshafat, die seun van Asa, het koning geword oor Y’hudah in die vierde jaar van Ag’av, koning van Yisra’el.

42. Y’hoshafat was vyf en dertig jaar oud toe hy koning geword het en hy het vyf en twintig jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was `Azuvah, die dogter van Shilgi.

43. Hy het in al die paaie van sy vader Asa geloop deur te doen wat reg was in die oë van יהוה en het nie daarvan af weggedraai nie. Nogtans het hy nie die hoë plekke verwyder nie; die mense het steeds op die hoë plekke geoffer en wierook gebrand.

44. Y’hoshafat het vrede gemaak met die koning van Yisra’el.2 Kon 1:17; 2 Kon 3; 2 Kro 17-21:1

45. Die res van Y’hoshafat se dade, sy mag wat hy gewys het en hoe hy oorlog gemaak het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie?

46. Hy het ook die manlike prostitute, wat nog uit die dae van sy vader, Asa, oor was, uit die land uitgegooi.

47. Daar was geen koning in Edom nie; ’n waarnemer was koning.2 Kro 20:35-37

48. Y’hoshafat het skepe van Tarshish gebou om na Ofir te gaan vir goud, maar hulle het nie gegaan nie, want die skepe het gebreek in `Etzyon-Gever.

49. Toe sê Agazyah, die seun van Ag’av, vir Y’hoshafat: “Laat my diensknegte saam met u diensknegte op die skepe gaan,” maar Y’hoshafat wou nie inwillig nie.

50. Y’hoshafat is neergelê by sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid en sy seun Y’horam het koning geword in sy plek.

51. Agazyah, die seun van Ag’av, het koning geword oor Yisra’el in Shomron in die sewentiende jaar van Y’hoshafat, koning van Y’hudah en hy het twee jaar oor Yisra’el regeer.

52. Hy het boos gedoen in die oë van יהוה en het geloop in die pad van sy vader, in die pad van sy moeder en in die pad van Yarov’am, die seun van N’vat, wat Yisra’el laat sondig het.

53. Hy het Ba’al gedien en voor hom neergebuig en aanbid en יהוה, die God van Yisra’el, tot woede getart, net soos alles wat sy vader gedoen het.