hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Nou, let op, daar het ’n man van God uit Y’hudah, deur die woord van יהוה, in Beit-El aangekom terwyl Yarov’am by die altaar staan om wierook te brand.2 Kon 23:15,16

2. Hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van יהוה en gesê: “Altaar, altaar, so sê יהוה: ‘Let op, ’n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Yoshiyahu en op jou sal hy die priesters van die hoë plekke wat wierook op jou gebrand het, offer en mensbene sal op jou verbrand word.’”

3. Toe het hy dieselfde dag ’n teken gegee en gesê: “Dit is die teken dát יהוה gepraat het: ‘Let op, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word.’”

4. Toe die koning die woord van die man van God hoor, wat hy teen die altaar in Beit-El uitgeroep het, steek Yarov’am sy hand uit vanaf die altaar en sê: “Gryp hom!” Sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het egter styf geword sodat hy dit nie weer kon terugtrek na homself toe nie.

5. Die altaar is ook uitmekaargeskeur en die as is van die altaar afgegooi volgens die teken wat die man van God gegee het deur die woord van יהוה.

6. Die koning sê aan die man van God: “Pleit asseblief van יהוה, jou God en bid vir my dat my hand aan my teruggegee sal word.” Die man van God het van יהוה gepleit en die koning se hand is vir hom herstel en dit het geword soos vroeër.

7. Toe sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en verfris jouself en ek sal vir jou ’n beloning gee.”

8. Die man van God sê egter vir die koning: “Selfs al gee u my die helfte van u huis, sal ek nie saam met u gaan nie en ook sal ek geen brood eet of water drink in hierdie plek nie,

9. want so het יהוה my beveel deur Sy woord en gesê: ‘Jy mag geen brood eet of water drink of terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’”

10. Hy het toe met ’n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Beit-El gekom het nie.

11. ’n Ou profeet het in Beit-El gebly en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Beit-El gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gepraat het, het hulle vir hul vader vertel.

12. Hulle vader het vir hulle gesê: “Met watter pad het hy gegaan?” Sy seuns het die pad gesien waarmee die man van God, wat uit Y’hudah gekom het, weg is.

13. Toe sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle het vir hom die donkie opgesaal en hy het daarop weggery.

14. Hy het agter die man van God aan gegaan en hom gekry waar hy onder ’n eikeboom sit en hy sê vir hom: “Is jy die man van God wat uit Y’hudah gekom het?” Hy antwoord: “Ek is.”

15. Toe sê hy vir hom: “Kom huis toe saam met my en eet brood.”

16. Hy antwoord: “Ek kan nie teruggaan of saam met jou gaan nie; ek mag ook nie brood eet of saam met jou water in hierdie plek drink nie,

17. want ’n opdrag het na my toe gekom deur die woord van יהוה: ‘Jy mag geen brood eet of water daar drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’”

18. Hy het vir hom gesê: “Ek is ook ’n profeet net soos jy en ’n engel het met my gepraat deur die woord van יהוה en gesê: “Bring hom terug saam met jou na jou huis dat hy brood kan eet en water kan drink.” Hy het vir hom gelieg.

19. Hy het saam met hom teruggegaan en in sy huis brood geëet en water gedrink.

20. Nou, dit het gebeur terwyl hulle aan tafel sit dat die woord van יהוה tot die profeet wat hom laat omdraai het kom

21. en hy roep uit tot die man van God wat uit Y’hudah gekom het en sê: “So sê יהוה: Omdat jy ongehoorsaam was aan die opdrag van יהוה en nie gehoorsaam was aan die opdrag wat יהוה, jou God, jou beveel het nie,

22. maar teruggegaan en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy vir jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie; daarom sal jou liggaam nie in die graf van jou vaders kom nie.”

23. Dit het gebeur nadat hy brood geëet en nadat hy gedrink het dat hy vir hom die donkie opsaal, vir die profeet wat hy teruggebring het.

24. Toe hy weg is, het ’n leeu hom op die pad ontmoet en hom doodgemaak. Sy lyk is op die pad neergegooi, met die donkie wat langs hom staan en die leeu wat ook langs die lyk bly staan het.

25. Let op, daar het manne verbygekom wat die lyk op die pad sien lê het en die leeu wat langs die lyk staan. Hulle het gekom en dit in die stad waar die ou profeet woon, vertel.

26. Toe die profeet wat hom teruggebring het van die pad af, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat ongehoorsaam was aan יהוה se opdrag; daarom het יהוה hom aan die leeu oorgegee, wat hom verskeur en hom doodgemaak het, volgens die woord van יהוה wat Hy met hom gepraat het.”

27. Toe praat hy met sy seuns en sê: “Saal vir my die donkie op.” Hulle het dit opgesaal.

28. Hy het gegaan en sy lyk op die pad neergegooi gekry, met die donkie en die leeu wat langs die lyk staan; die leeu het nie die lyk geëet of die donkie verskeur nie.

29. Die profeet het die lyk van die man van God opgetel en dit op die donkie gesit en dit teruggebring en in die stad van die ou profeet gekom om te rou en hom te begrawe.

30. Hy het sy lyk in sy eie graf neergelê en hulle het oor hom gerou: “Ag, my broer!”2 Kon 23:18

31. Nadat hy hom begrawe het, sê hy vir sy seuns: “As ek sterf, begrawe my in die graf waar die man van God in begrawe is; lê my bene langs sy bene neer,

32. want die ding sal sekerlik gebeur wat hy deur die woord van יהוה uitgeroep het teen die altaar in Beit-El en teen al die huise van die hoë plekke wat in die stede van Shomron is.

33. Ná hierdie gebeurtenis het Yarov’am nie van sy verkeerde pad af teruggekeer nie, maar weer priesters van die hoë plekke, vanuit al die mense, aangestel; elkeen wat wou, dié het hy aangestel, om priesters van die hoë plekke te wees.

34. Hierdie ding, wat vir die huis van Yarov’am sonde geword het, het dit verdelg en vernietig van die aarde af.