hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 2 Die Boodskap (DB)

Die groot eksperiment

1. Ek het toe besluit om die lewe te geniet en uit te vind wat vreugde nou eintlik is. Ook dit was ’n sinlose gejaag na wind.

2. Ek het ontdek dat om te lag nie veel sin het nie en dat vreugde nie veel beteken nie.

3. Omdat ek na insig in die lewe gesmag het, het ek my toe aan wyn en genot oorgegee. Ek wou vasstel wat goed is vir ’n mens en wat nie.

4. Ek het toe groot projekte aangepak: ek het huise gebou, wingerde aangeplant,

5. parke en tuine uitgelê, verskillende vrugtebome geplant en

6. watervore uitgekap om ’n groot bos met groen bome nat te lei.

7. Verder het ek ’n groot klomp werkers, mans en vroue, in diens geneem en hulle kinders my eiendom gemaak. Ek het ook groot troppe vee vir my gekoop, meer as wat enige koning voor my gehad het.

8. Hope silwer en goud het ek bymekaargemaak. Ek het talle sangers en sangeresse aangestel, en baie mooi meisies gekry om my gelukkig te hou.

9. Naderhand was ek groter en belangriker as enigiemand wat ooit in Jerusalem gewoon het. My soektog na wysheid en insig het ek egter nooit verloor nie.

10. Wat ek in dié tyd wou gehad het, het ek gekry. Ek het myself niks ontsê nie. En ek was gelukkig oor wat ek alles bereik het. Dit was die beloning vir al my moeite.

11. Toe het ek alles wat ek gedoen het, krities begin ondersoek. Oor my werk en inspanning het ek baie nagedink. En ek het besef dat alles sinloos is. Dit is bloot net ’n mors van tyd. In hierdie wêreld is daar absoluut géén sin nie.

Dwase mense loop weg met dit

12. Ter wille van my opvolger het ek toe besluit om goed na te dink oor die nut van wysheid en dwaasheid.

13. En my slotsom? Soos ’n lig in die donker beter is as niks nie, so is wysheid beter as domheid.

14. ’n Wyse kan dus sien waar om te loop en die dwase nie. Een ding het ek egter ontdek: dieselfde lot tref wyse en dwase mense.

15. En ek het hiermee geworstel. As dieselfde dinge met die wyse én die dwase gebeur, wat is dan die sin van al my wysheid? Ek het toe besef daar is geen sin nie. Die lewe is absoluut sinloos.

16. Die wyse en die dwase gaan albei die een of ander tyd sterf. En die mense gaan die wyse gou vergeet en die dwase ook nie lank onthou nie.

17. Die lewe het vir my alle betekenis verloor, want niks op aarde het sin nie. Alles is sinloos en net ’n gejaag agter wind aan.

18. Alles wat ek in my lewe bereik het, het ek begin verafsku omdat my opvolger die vrug daarvan gaan pluk.

19. En niemand weet of hy wys of dwaas gaan wees nie. Een ding is egter seker: hy sal alles besit en geniet waarvoor ek hard gewerk het. Dit wat ek deur my wysheid vermag het, sal hy net so oorneem. Dít wys net hoe sinloos die lewe werklik is.

20. Daarom het ek oor die sin van al my geswoeg op aarde begin twyfel.

21. ’n Mens kan elke dag met oorgawe werk, en dan kom daar iemand wat glad nie daarvoor gewerk het nie en hy stap met alles weg. Dit is mos verkeerd; dis opperste sinloosheid.

22. Wat is dan die sin van al ons harde werk? Wat het ’n mens van al sy ideale en sy geswoeg op aarde?

23. ’n Mens bring al sy dae deur in hartseer en bekommernis. Selfs nie eens in die nag kry jy rus nie. Alles is sinloos. Absoluut alles.

24. Die beste ding wat met enige mens kan gebeur, is om te eet en te drink en iets van sy harde werk te geniet. En ek het agtergekom dat ook dit uit God se hand kan kom.

25. Wie kan tog eet en geniet sonder dat God dit toelaat en dit ook goedkeur?

26. As God van iemand hou, gee Hy hom wysheid en kennis en geluk. Al die ander moet hard werk en al hulle geld spaar sodat dit weer aan daardie mense van wie God hou, gegee kan word. Ook dit kom tot niks. Dis ’n gejaag na wind.