hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 1 Die Boodskap (DB)

1. Hier volg die woorde van die Prediker, ’n seun van Dawid, die koning van Jerusalem.

2. Alles is sinloos, sê die Prediker. Absoluut alles. Die lewe het geen sin nie. Alles loop uit op niks.

3. Elke dag werk jy hard, maar wat kry jy van al jou gesukkel?

4. Geslagte kom en gaan, maar watter sin het dit? Die lewe gaan maar op sy ou manier voort.

5. Elke dag kom die son op. Teen sononder gaan dit moeg onder, maar die volgende oggend staan dit weer op.

6. En die wind waai eindeloos heen en weer. Dit waai nou dié kant toe en dan weer daardie kant toe.

7. Al die riviere loop see se kant toe, maar die see word nooit vol nie. Die riviere se loop see toe bly altyd dieselfde. Hulle vat altyd dieselfde pad.

8. Woorde kan ’n mens moeg maak met ’n moegheid wat niemand kan beskryf nie. Jou oog kyk en kyk sonder om ooit klaar te sien. En jou oor hoor en hoor, maar dit kry nooit klaar gehoor nie.

9. Wat reeds gebeur het, sal maar weer gebeur. En wat mense tot nou toe gedoen het, sal hulle maar môre en oormôre weer doen.

10. Sal iemand ooit kan sê: “Kyk, dit is nou werklik iets nuuts”? Hoegenaamd nie! Dit het al in die gryse verlede en lank voor ons tyd bestaan.

11. Niemand dink meer aan die mense wat lank gelede geleef het nie. Of aan hulle wat nog moet kom nie. Elke geslag dink net aan hulleself. Hulle het die voorgeslag lankal vergeet.

Die verskil tussen wysheid en dwaasheid

12. Ek, die Prediker, was koning van Israel, in Jerusalem.

13. Ek het besluit om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en te probeer verstaan. Ek het uitgevind dat dit ’n moeilike taak is wat God die mens opgelê het om oor sulke dinge na te dink en dit na te vors.

14. Ek het alles gesien wat mense op aarde doen. Net mooi alles was sinloos; ’n gejaag agter wind aan.

15. Dit is presies soos die spreekwoord sê: “As iets krom is, kan niemand dit reguit maak nie, want niemand kan die wêreld verbeter nie.”

16. Ek het by myself gedink dat ek oor die jare sommer baie wysheid en lewenskennis versamel het. Baie meer as enigeen wat voor my in Jerusalem regeer het. Al die kennis en wysheid het deel van my lewe geword.

17. Toe het ek besluit om die verskil tussen wysheid en kennis aan die een kant en domheid en dwaasheid aan die ander kant te leer ken. En ek moet erken dat daar eintlik geen verskil is nie. Alles is maar ’n sinlose gejaag na wind.

18. Wie insig in die lewe het, het ook baie verdriet. En wie kennis versamel, ervaar ook groot hartseer.