hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 12 Die Boodskap (DB)

1. Dink aan God wat jou geskep het terwyl jy nog jonk is. Voordat die swaar dae kom en jy sal sê: “Die lewe is nie meer lekker nie.”

2. Dit is daardie tyd in ’n mens se lewe wanneer die son se strale vir jou dof begin word en jy die maan se lig en die sterre se geflikker in die aand skaars nog sien.

3. Dit is wanneer jou hande begin bewe, die bene moeilik loop, die tande moeilik kou omdat hulle so min is, en die oë sleg sien,

4. die ore nie meer die straat se geraas hoor nie, die stem sagter en dowwer word. En as die voëls vroegoggend begin koer, staan jy op sonder dat jy hulle eens hoor.

5. Dit is wanneer jy vir steil opdraandes en baie ander dinge bang word omdat jy te swak geword het. En terwyl die amandelboom bloei, die sprinkaan hom vol eet en die kapperkruid blom, sterf die mens. In die strate sal hulle die doodsberig vertel. Dan sal hulle saamkom om hom te begrawe.

6. Dit is soos ’n silwertou wat afbreek by ’n put, soos die goue skepemmer wat breek, soos die drinkbeker wat stukkend breek en soos die wiel wat by die put inval.

7. Dan word die mens weer stof soos vroeër, en sy lewensasem gaan terug na God toe waar dit vandaan gekom het.

8. Die lewe is sinloos. Absoluut sinloos, so sê die Prediker.

’n Laaste woord

9. Die Prediker het baie van die lewe af geweet. Hy het aangehou om die mense te leer. Hy het baie gestudeer, die lewe nagevors en talle spreuke neergeskryf.

10. Hy het probeer om fyn te formuleer en dinge te beskryf soos dit was.

11. Sy woorde was soos ’n skerp stok waarmee ’n mens diere aanjaag. En sy spreuke was soos spykers wat voortdurend ingeslaan moet word. Sy woorde was betroubaar omdat dit van God af kom.

12. Die Prediker het gesê: “My seun, aan boeke skryf kom daar nooit ’n einde nie. Baie studie put ’n mens uit.”

13. Een ding bly nog oor, en dit is dat almal God moet vrees en sy voorskrifte moet gehoorsaam.

14. Onthou, God kyk na wat almal doen. En God self sal besluit of dit goed is of sleg.