hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 3 Die Boodskap (DB)

Magteloos uitgelewer

1. Alles gebeur op ’n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal: •

2. daar is ’n tyd om gebore te word en daar is ’n tyd om dood te gaan;daar is ’n tyd om te plant en daar is ’n tyd om weer die plante uit te trek; •

3. daar is ’n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook ’n tyd om gesond te maak; daar is ’n tyd om dinge af te breek en ’n tyd om dit te herstel;•

4. daar is ’n tyd wanneer ’n mens hartseer is en dan is daar ook weer ’n tyd vir vreugde; daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om weer gelukkig te wees;•

5. daar is ’n tyd om mekaar lief te hê en ’n tyd om weg van mekaar te wees;daar is ’n tyd om mekaar te liefkoos en ’n tyd wanneer liefkosing nie pas nie; •

6. daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om goed te laat wegraak;daar is ’n tyd om op te gaar en ’n tyd om weg te gooi;•

7. daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak;daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly; •

8. daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat;’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.

9. Watter voordeel kry ’n mens dan op die ou end uit al sy harde werk?

God se werk is onverstaanbaar

10. God het vir mense ’n baie moeilike werk gegee. Hulle moes probeer om God se werk te verstaan.

11. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie.

12. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet.

13. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God.

14. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is.

15. Wat nou bestaan, het vroeër ook reeds bestaan. En wat nog gaan kom, was alreeds daar. God laat dieselfde dinge weer en weer gebeur.

Onreg in die wêreld

16. Ek het om my rondgekyk. Toe sien ek: waar die regte dinge moes gebeur, was daar net onreg. Niemand het gedoen wat God vra nie.

17. Ek het gedink daar is ’n tyd om te oordeel en ’n tyd om te straf, en dat God mense wat doen wat Hy sê en sondaars billik sal oordeel.

18. Maar dit sal ongelukkig nie gebeur nie, want volgens God is ons niks beter as ’n dier nie.

19. Wat met ’n mens gebeur, gebeur ook met ’n dier. Die een gaan net soos die ander dood. Albei het dieselfde asem. Die mens is nie beter as die dier nie. Die lewe is regtig sinloos.

20. ’n Dooie mens en ’n dooie dier gaan na dieselfde plek toe terug. En dit is die stof waaruit albei gemaak is.

21. Wie weet of die mens se asem opstyg en of die dier s’n in die aarde in wegsink?

22. Die lewe het my geleer dat die mens dit waarmee hy hom elke dag besig hou, maar moet geniet. Hy kan eintlik nie iets anders nie, want niemand weet wat hierna in die dood gaan gebeur nie.