hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 5 Die Boodskap (DB)

1. Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie. Onthou, God is baie groot en jy is baie klein. Hy is bo in die hemel en jy is onder op die aarde. Daarom moet jy mooi kyk wat jy sê.

2. Pas op hoe jy oor jou drome praat, want van te veel praat, kom groot probleme. Kort voor lank sê jy verkeerde dinge oor God.

3-4. As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het.

5. Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer vir die priester gaan sê jy het dit nie so bedoel nie. Waarom wil jy God met al jou gepraat kwaad maak sodat Hy al jou harde werk vernietig?

6. Pas op vir ydele droompraatjies, want dit maak ’n mens net vol van jouself. Dien God eerder met groot eerbied.

Die lewe het nie meer sin nie

7. Moenie verbaas wees as ’n regering armes onderdruk en daar geen reg en geregtigheid bestaan nie. Die fout lê by korrupte amptenare wat mekaar beskerm.

8. As ’n regeerder in sulke omstandighede ten minste nog die boere help en bystaan, is dit ’n stukkie genade.

9. As jy lief is vir geld, sal jy altyd nog meer wil hê. As jy baie besittings wil hê, sal jy nooit genoeg kry nie. Dit is sinloos. Alles kom tot niks.

10. Hoe ryker jy is, hoe meer mense moet jy kos gee. En watter sin het al jou geld dan? Jy sien dit net, maar geniet dit nooit nie.

11. Of sy maag nou vol is of nie, ’n werker slaap altyd lekker. ’n Ryke slaap min, want hy is oor besittings bekommerd. Ook dit kom tot niks.

12. Ek het ’n verskriklike ding in hierdie lewe sien gebeur: mense spaar hulle geld, maar dan verloor hulle dit in ’n oogwink.

13. Iemand doen ’n slegte transaksie en verloor alles. Dan is daar niks vir sy kinders oor nie.

14. Soos hy sonder enige besittings gebore is, so gaan hy dan ook sonder enige besittings dood. Ten spyte van al sy harde werk kan hy niks saamvat nie.

15. Net soos hy met leë hande in die wêreld gekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande. Dit is mos nie reg nie, want watter nut het al sy harde werk dan?

16. Bowendien is sy hele lewe ook vol swaarkry, kommer en pyn.

17. Die allerbeste ding wat met ’n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur te geniet. Dit is die mens se enigste erfporsie hier op aarde.

18. Wanneer God die mens rykdom gee en hom boonop toelaat om dit te geniet en hom vreugde tussen al die swaarkry hier op aarde gee, is dit ’n spesiale geskenk van God.

19. As God hom bly en gelukkig maak, dink hy glad nie aan hoe kort en swaar die lewe is nie.