Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 2:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Ai tog! Die Here was so woedend. Hy het soos ’n donker wolk oor Sion gekom. Van bo uit die hemel uit het Hy die mooi stad van Israel in die grond in geboor. Toe Hy so kwaad geword het, het Hy weggegaan van die tempel af waar Hy altyd gewoon het.

2. Hy het sonder om jammer te wees die plek verwoes waar Jakob gebly het. Hy was woedend toe Hy die plek afgebreek het waar Juda gewoon het. Hy het die leiers op die grond gegooi. Hy het ’n einde gemaak aan hulle regering.

3. Hy was rasend van woede toe Hy Israel se krag gebreek het. Toe die vyand kom, het Hy nie eens ’n hand uitgesteek om sy mense te help nie. Hy was soos vuur wat van alle kante af teen Jakob gebrand het.

4. Hy het reg teenoor ons gaan staan. Hy het die pyl in sy boog gespan en na ons gemik asof ons sy vyand was. Hy het soos ’n vyand alles verwoes wat vir ons mooi was. Sy woede het losgebars teen dié wat in Sion bly. Dit was soos ’n vuur wat vlam vat.

5. Die Here het Israel verwoes asof hulle sy vyand was. Hy het die huise afgebreek waarin hulle gewoon het. Hy het die plekke waar hulle teen gevare geskuil het, heeltemal verwoes. Hy het ’n hartseer in Juda gebring wat nooit sal weggaan nie.

6. Hy het sy tempel waar almal bymekaargekom het, met geweld verwoes. Hy het dit afgebreek asof dit net ’n tydelike afdak was. Die Here het dit laat ophou dat ons vir Hom bymekaarkom en sy feeste en rusdae hou. Hy was so kwaad dat Hy sommer die koning en sy werkers by die tempel in die pad gesteek het.

7. Die Here wou niks verder weet van die plek waarop hulle vir Hom geoffer het nie. Hy het nie verder belanggestel in die tempel waar hulle tot Hom kom bid het nie. Hy het die vyand toegelaat om sy huis se mure te kom afbreek. Hulle het in die huis van die Here ingekom en daar ’n lawaai gemaak asof dit ’n plek was waar ’n mens te kere kan gaan soos jy wil.

8. Die Here het besluit dat Sion se mure afgebreek moet word. Hy het merke op die mure gemaak om vir die vyand te wys waarheen hulle moet kom om dit af te breek. Die sterk mure aan die buitekant het saam met die mure aan die binnekant inmekaargestort.

9. Die hekke van die stad lê saam met hulle skarniere onder die rommel begrawe. Haar koning en haar leiers is weggevat na ander volke toe. Dié wat vir die mense moet kom vertel wat die Here sê, hoor niks van die Here nie. Niemand weet meer wat die Here wil hê nie.

10. Die leiers van Sion sit plat op die grond. Hulle sê nie ’n woord nie. Hulle het begrafnisklere aan. Elkeen van hulle gooi grond op sy kop, so hartseer is hulle. Die jongmeisies van Jerusalem sit daar kop onderstebo.

11. Ek is heeltemal verslae. My oë is al leeg gehuil. Ek is naar op my maag as ek sien hoe my volk in duie stort. Kinders en babatjies word flou in die stad se strate.

12. Die kinders soek by die ma’s iets om te eet of te drink. Hulle sak op straat inmekaar soos iemand wat geskiet is. Hulle gaan dood in hulle ma se arms.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 2