Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:29-43 Die Boodskap (DB)

29. Die Here sê: “Die land skud en bewe van pyn en swaarkry, want Ek, die Here, is besig om te doen wat Ek teen Babel beplan het. Ek sal Babel ’n verlate plek maak waar niemand meer sal bly nie.

30. Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek.

31. Van oraloor kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel dat alles verlore is. Daar is nie meer hoop nie, want die stad is van alle kante af ingeval.

32. Daar is ook nie meer wegkomkans nie, want al die ontsnaproetes oor die riviere is afgesny. Verder is die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is lam van angs.”

33. Die Here is die God van Israel. Hy sê: “Babel is soos die plek waar die koring bewerk word. Die gebruik is om die koring met die voete te trap. Dit is wat met Babel gaan gebeur. Babel gaan soos koring geoes en vertrap word.”

34. Van Babel word gesê: “Nebukadnesar, die koning van Babel, het ons geëet en verpletter. Hy het al ons krag getap en ons leeg laat voel. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag met ons skatte volgemaak. Hy het ons uit ons eie land gegooi.”

35. Die mense van Jerusalem sê: “Mag Babel terugbetaal word vir al die geweld wat ons moes deurgaan. Mag die skuld vir ons dood op die Babiloniërs afkom! Ons hoop hulle gaan swaar daarvoor betaal.”

36. Die Here sê vir die mense van Juda: “Ek belowe dat Ek julle saak sal opneem. Ek sal ook sorg dat Babel betaal vir wat hulle aan julle gedoen het. Die mense van Babel is afhanklik van die Eufraatrivier en fonteine vir water om van te leef. Ek sal dit laat opdroog.

37. Babel sal ’n hoop bourommel word. Die jakkalse sal dit hulle lêplek maak. Mense wat die verskriklike toestand van die plek sien, sal van skok na hulle asem snak. Niemand sal meer daar bly nie.

38. Die Babiloniërs gaan woes te kere en brul soos leeus. Hulle grom soos leeuwelpies.

39. Terwyl hulle nog so warm is van die wyn, sal Ek vir hulle ’n ander fees hou. Ek sal hulle laat drink totdat hulle baie vrolik is en aan die slaap raak. Hulle sal aanhou slaap en nooit weer wakker word nie.

40. Ek sal hulle bring om soos lammers, ramme en bokke geslag te word.”

41. Die Here sê: “Hoe verskriklik is Babel se val nie! Babel was vroeër op almal se lippe. Die stad wat deur almal in die wêreld geloof is as so wonderlik is deur vyande ingeneem. Nou skok dit ander volke as hulle die toestand sien waarin Babel is.

42. Dit is of die see opgestoot en oor Babel gespoel het. Die stad lê toe onder die golwe.

43. Ook die stede rondom Babel is in ’n vreeslike toestand. Die land is droog en lyk soos ’n woestyn. Niemand bly meer in die stede of gaan selfs daar naby verby nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51