Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 14:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Maar toe sê ek: “Here, daar is niemand wat so magtig soos U is nie. Hulle profete wat ook sê dat U hulle gestuur het, sê vir hulle: ‘Dit gaan goed. Moenie julle steur aan praatjies oor oorlog of hongersnood nie. Die Here sal sorg dat dit bly goed gaan in die land.’”

14. Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete praat namens My, maar hulle praat nie die waarheid nie. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek gesê hulle moet vir julle ’n boodskap gee. Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Hulle maak of dit wat hulle te sê het, nuwe inligting is wat hulle gesien het of aan hulle bekendgemaak is. Dit is ’n spul leuens wat hulle vir julle aandra, maar hulle vertel dit vir julle asof dit van die Here af kom.”

15. Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan.

16. Die mense vir wie hierdie valse profete gelieg het, sal oral in die strate van Jerusalem dood lê. Mans, vroue en kinders sal die slagoffers wees van hongersnood of oorlog. Daar sal niemand oor wees om hulle te begrawe nie. Hulle moet self die skuld dra dat dit met hulle gebeur het, want hulle het slegte goed gedoen.

17. Jeremia, vertel vir hulle wat jy voel oor wat gebeur. Sê vir hulle: Dag en nag loop die trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. My volk wat soos ’n jongmeisie is, is swaar gewond en besig om dood te gaan.

18. As ek in die veld kom, sien ek oral net lyke lê. Hulle is afgemaai deur die vyand. Loop ek in die strate van die stad, is al wat ek sien, mense wat van die honger dood is. Die sogenaamde boodskappers van die Here en die priesters gaan oral in die land aan met hulle werk, maar hulle weet nie regtig wat hulle doen nie.”

19. Here, wil U nou heeltemal niks met Juda te doen hê nie? Haat U die mense van Jerusalem? Waarom het U ons so erg gewond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het so gehoop dat alles weer rustig en voorspoedig sou gaan, maar daar het niks van gekom nie. Ons het gehoop dat daar vir ons kans sou wees om weer reg te kom, maar in plaas daarvan het verskriklike dinge met ons gebeur.

20. Here, ons erken dat ons verkeerde dinge gedoen het. So ook ons voorouers. Ons het nie die dinge gedoen wat U wou hê ons moes doen nie.

21. Ek vra dat U ook ter wille van Uself ons nie van U af sal wegstoot nie. Jerusalem is u blyplek wat baie spesiaal is. Moenie dat daar skade aan die stad gedoen word nie. U is ons God en ons is u mense. Moenie die ooreenkoms tussen U en ons verbreek nie.

22. Kan enige van die danige afgode van die nasies vir ons reën gee? Laat die hemel sommer self reën op die aarde val? Nee, dit kom van U af, o Here, ons God. Dit is net U wat sulke dinge kan doen. Ons sal met afwagting bly hoop dat U ons sal help.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 14