Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 14:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Die Here het sy volk geantwoord en gesê: “Julle het daarvan gehou om van My af te dwaal. Julle kon julleself nie in toom hou nie. Daarom dink Ek nie langer aan julle as my mense nie. Ek sal al die slegte dinge wat julle gedoen het, onthou. Ek sal julle straf vir al die dinge wat julle verkeerd gedoen het.”

11. Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.

12. Al bly hulle ook sonder kos ter wille van My, sal Ek My nie aan hulle steur nie. En al bring hulle ook allerhande soorte offers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”

13. Maar toe sê ek: “Here, daar is niemand wat so magtig soos U is nie. Hulle profete wat ook sê dat U hulle gestuur het, sê vir hulle: ‘Dit gaan goed. Moenie julle steur aan praatjies oor oorlog of hongersnood nie. Die Here sal sorg dat dit bly goed gaan in die land.’”

14. Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete praat namens My, maar hulle praat nie die waarheid nie. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek gesê hulle moet vir julle ’n boodskap gee. Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Hulle maak of dit wat hulle te sê het, nuwe inligting is wat hulle gesien het of aan hulle bekendgemaak is. Dit is ’n spul leuens wat hulle vir julle aandra, maar hulle vertel dit vir julle asof dit van die Here af kom.”

15. Daarom sê die Here oor hierdie profete: “Ek sal hierdie mense straf omdat hulle namens My praat en beweer dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal self in ’n oorlog sterf of van die honger doodgaan.

16. Die mense vir wie hierdie valse profete gelieg het, sal oral in die strate van Jerusalem dood lê. Mans, vroue en kinders sal die slagoffers wees van hongersnood of oorlog. Daar sal niemand oor wees om hulle te begrawe nie. Hulle moet self die skuld dra dat dit met hulle gebeur het, want hulle het slegte goed gedoen.

17. Jeremia, vertel vir hulle wat jy voel oor wat gebeur. Sê vir hulle: Dag en nag loop die trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. My volk wat soos ’n jongmeisie is, is swaar gewond en besig om dood te gaan.

18. As ek in die veld kom, sien ek oral net lyke lê. Hulle is afgemaai deur die vyand. Loop ek in die strate van die stad, is al wat ek sien, mense wat van die honger dood is. Die sogenaamde boodskappers van die Here en die priesters gaan oral in die land aan met hulle werk, maar hulle weet nie regtig wat hulle doen nie.”

19. Here, wil U nou heeltemal niks met Juda te doen hê nie? Haat U die mense van Jerusalem? Waarom het U ons so erg gewond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het so gehoop dat alles weer rustig en voorspoedig sou gaan, maar daar het niks van gekom nie. Ons het gehoop dat daar vir ons kans sou wees om weer reg te kom, maar in plaas daarvan het verskriklike dinge met ons gebeur.

20. Here, ons erken dat ons verkeerde dinge gedoen het. So ook ons voorouers. Ons het nie die dinge gedoen wat U wou hê ons moes doen nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 14