hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 9 Die Boodskap (DB)

Judeërs wat met vroue van

1. Nadat ons hiermee klaar was, het die leiers na my toe gekom. Hulle het vir my kom sê dat baie van die Israeliete wat in die land agtergebly het, selfs van die priesters en die Leviete, nie hulleself eenkant gehou het van die ander volke in die land nie. Hulle het nie weggebly van die vreeslike dinge wat daardie mense vir hulle afgode doen nie. Hulle het selfs gaan trou met Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete.

2. Van daardie volke het weer met Israeliete getrou. God se volk het deurmekaargeraak met die heidense volke wat saam met hulle in die land bly. Veral die leiers en die priesters het hulle hieraan skuldig gemaak.

3. Ek was so geskok toe ek hiervan hoor dat ek my klere begin skeur het en die hare uit my kop en baard gepluk het asof ek gehoor het van iemand wat dood is. Ek het verslae op die grond gaan sit.

4. Almal vir wie die Here se wet belangrik was, het oorbluf rondom my kom staan. Hulle was ook geskok dat die mense wat al vroeër teruggekom het, nie aan die Here getrou was nie. Ek was egter te stomgeslaan om nog iets te sê. Ek het maar net so bly sit tot dit tyd geword het vir die aandoffer.

Esra se skuldgebed

5. Toe dit tyd was vir die offer wat aan die einde van die dag gebring word, het ek opgestaan van waar ek gesit en treur het. Ek het op my knieë neergesak en my hande na die Here my God uitgesteek.

6. Ek het gebid: “My God, ek is te oorbluf en te skaam om U in die oë te kyk. Ons oortreding is so groot dat dit oor ons almal se kop gaan. Ons skuld is hemelhoog.

7. Van die tyd van ons voorouers af tot vandag toe het ons aangehou om teen U te oortree. Oor ons sonde het ons en ons konings en priesters in die hande van die konings van die wêreld beland. Hulle het ons met oorlog afgemaai, ons gevang en ons weggevoer nadat hulle ons land geplunder het. Ons het in hierdie skande beland waarin ons vandag nog is.

8. “Vir ’n kort tydjie was die Here ons God goed vir ons. Hy het vir ’n klompie van ons wat oorgebly het, hier by sy tempel weer moed laat skep. Ons God het ons weer hoop laat kry en laat asemskep na ons swaarkry.

9. Ons God het ons nie weggegooi toe ons slawe in ander lande was nie. Hy het die Persiese konings se hart teenoor ons goed gemaak sodat hulle vir ons die kans gegee het om die tempel van ons God weer te kom bou, sy mure weer regop te kry. Ons het gevoel of ons weer vastrapplek in Juda en Jerusalem het.

10. “Maar wat kan ons nou sê, ons God? Ons was al weer ongehoorsaam aan wat U van ons vra.

11. U het ons deur u boodskappers gewaarsku dat die land waarin ons gaan bly, vol is van verkeerde dinge. Die volke wat in die land gebly het, het die land vuil gemaak met die gode wat hulle aanbid en die lelike dinge wat hulle vir die gode doen.

12. Ons moes onder geen omstandighede met hulle trou nie. Ons moes hulle nooit help om aan te gaan met die verkeerde dinge nie. Ons moes vir hulle oppas sodat ons self die goeie dinge van die land kon geniet en die land vir altyd aan ons en ons kinders kon behoort.

13. Na alles wat met ons gebeur het oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het en die sondes wat ons gedoen het, besef ons, Here, dat U Uself moet terughou om ons nie vir ons sondes te straf soos ons eintlik verdien nie. Ten spyte van alles het U selfs gesorg dat daar ’n klompie van ons is wat vandag nog oorgebly het.

14. “Hoe kan ons dan nou weer kom en doen wat U uitdruklik gesê het ons nie moet doen nie? U het duidelik gesê dat ons nie met hierdie volke moet trou nie en nie deurmekaar moet raak met die afskuwelike dinge wat hulle vir die afgode doen nie. Dit is niks minder nie as billik as U nou so kwaad vir ons gaan word dat U ons klompie wat oor is, wil uitroei.

15. “Here, God van Israel, U is regverdig. U was baie genadig om die klompie van ons tot vandag toe te laat oorbly. Maar, Here, ons is skuldig. Eintlik kan niemand van ons dit waag om nog voor U te kom ná dit wat ons gedoen het nie.”