hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10 Die Boodskap (DB)

’n Belofte

1. Terwyl Esra op sy knieë voor die tempel gestaan en bid en huil het en sy volk se skuld bely het, het ’n groot klomp mense om hom begin saamdrom. Daar was mans en vroue en kinders. Hulle het kliphard saam met Esra gehuil.

2. Een van hulle, Sekanja seun van Jegiël uit die nageslag van Elam, het vorentoe gekom. Hy het vir Esra gesê: “Ons was nie getrou aan ons God toe ons met vroue uit die ander volke getrou het nie. Maar daar is miskien nog hoop vir Israel. Ons kan hierdie saak nog regmaak.

3. Kom ons belowe die Here dat ons al hierdie vroue en die kinders wat ons by hulle het, na hulle mense toe sal laat teruggaan. Dié onder ons wat die Here se wette ken, moet ons help en vir ons sê hoe ons moet maak.

4. Jy moet die voortou neem. Doen wat gedoen moet word dat ons dit reg kan doen. Ons sal agter jou staan.”

5. Esra het toe so gemaak. Hy het die leiers van die priesters en die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle so sal maak. Hulle het dit baie ernstig vir die Here belowe.

6. Esra is van die tempel af weg na die blyplek van Joganan die seun van Eljasib toe. Hy het die nag daar gebly. Hy het egter niks geëet of gedrink nie. Hy het getreur oor al die mense wat teruggekom het en nie aan die Here getrou gebly het nie.

Die byeenkoms voor die tempel

7. Almal in Jerusalem en Juda wat deur die jare teruggekom het, moes in Jerusalem bymekaarkom.

8. Die leiers van die priesters het besluit dat elkeen wat nie binne drie dae in Jerusalem opdaag nie, alles sal verloor wat hy besit. Hy sou ook nie langer as ’n Judeër beskou word nie.

9. Op die derde dag, dit was die twintigste van die negende maand, was al die mans wat in Juda en Benjamin bly, in Jerusalem. Hulle het op die plein voor die tempel van God bymekaargekom. Hulle het gestaan en bewe. Aan die een kant was hulle gespanne oor wat gaan gebeur. Aan die ander kant was dit koud en het dit aanhoudend gereën.

10. Esra het met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle het nie getrou gebly aan die Here nie. Julle het met vroue van ander volke gaan trou. Julle het daardeur Israel se skuld by God net nog meer gaan maak.

11. Luister nou na die Here. Respekteer die God van julle voorouers. Doen wat Hy van julle vra. Hou julle eenkant van die ander volke in die land. Stuur die heidense vroue met wie julle getrou het, terug na hulle eie mense toe.”

12. Almal wat daar was, het toe geantwoord en hardop gesê: “Goed, ons sal doen wat jy vir ons sê!”

13. Daar het ook ’n voorstel gekom: “Ons is baie mense hier bymekaar. Dit reën aanmekaar. Ons kan nie die hele tyd hier buite in die reën bly staan nie. Hierdie ding kan ook nie binne ’n dag of twee klaargemaak word nie. Daar is baie van ons wat aan hierdie oortreding skuldig is.

14. Gee vir ons leiers die opdrag om hierdie saak af te handel. Elkeen wat met ’n vreemde vrou getrou het, kan ’n afspraak maak met die leiers en regters van sy dorp. Dan kan hy die saak saam met hulle afhandel. Op hierdie manier kan ons die Here se woede oor die saak laat ophou.”

15. Die voorstel is deur almal aanvaar. Net Jonatan die seun van Asael en Jagseja die seun van Tikwa, het nie saamgestem nie. Mesullam en die Leviet Sabbetai het ook soos hulle gedink.

16. Om te maak soos hulle besluit het, het Esra mans uit die verskillende families aangewys. Hy het hulle name opgeskryf. Op die eerste dag van die tiende maand het hulle die sake begin aanhoor.

17. Binne drie maande, op die eerste dag van die eerste maand, was die sake van die mans wat met vreemde vroue getrou het, afgehandel.

Die mans wat hulle vroue moes laat gaan

18. Daar is bevind dat die volgende priesters met vreemde vroue getrou het: Uit die familie van Jesua die seun van Josadak en sy priesters was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja.

19. Hulle het belowe om van die vroue te skei en ’n ram as offer vir hulle sonde vir God te offer om weer vrede by God te kry.

20. Uit die priesterfamilie van Immer was daar Ganani en Sebadja.

21. Uit die familie van Garim was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija.

22. Uit die familie van Pasgur was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.

23. Onder die Leviete was dit Josabad, Simeï, Kelaja (hy was ook bekend as Kelita), Petagja, Juda en Eliëser.

24. Tussen die sangers was dit Eljasib. Uit die poortwagte was daar Sallum, Telem en Uri.

25. Uit die gewone Israeliete was daar die volgende:Uit die Parosfamilie was dit Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja;

26. uit die Elamfamilie was dit Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia;

27. uit die Sattufamilie het gekom Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa;

28. uit die Bebaifamilie was daar Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai;

29. uit die Banifamilie was dit Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot;

30. uit die Pagat-Moabfamilie was daar Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse;

31. uit die Garimfamilie het gekom Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon,

32. Benjamin, Malluk en Semarja;

33. uit die Gasumfamilie was dit Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi;

34. uit die Banifamilie het gekom Maädai, Amram, Uel,

35. Benaja, Bedja, Keluhi,

36. Wanja, Meremot, Eljasib,

37. Mattanja, Mattenai en Jaäsai;

38. uit die Binnuïfamilie was daar Simi,

39. Selemja, Natan, Adaja,

40. Maknadbai, Sasai, Sarai,

41. Asarel, Selemja, Semarja,

42. Sallum, Amarja en Josef;

43. uit die Nebofamilie het gekom Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.

44. Al hierdie mans het met vreemde vroue getrou. Sommige van hulle het ook by hulle kinders gehad. Die mans moes die vroue en die kinders laat gaan.