hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8 Die Boodskap (DB)

’n Lys familiehoofde

1. Die volgende leiers uit die families is opgeskryf in die lys van persone wat saam met my getrek het toe Artasasta koning in Babel was:

2. Gersom uit die nageslag van Pinehas; Daniël uit die nageslag van Itamar; Gattus die seun van Sekanja uit die nageslag van Dawid;

3. Sagaria uit die nageslag van Paros (daar was 150 mans by hom wat ook in die lys opgeneem is);

4. Eljehoënai die seun van Seragja uit die nageslag van Pagat-Moab (daar was 200 mans by hom);

5. Sekanja die seun van Jagasiël (by hom was daar 300 mans);

6. Ebed die seun van Jonatan uit die nageslag van Adin (met 50 mans);

7. Jesaja die seun van Atalia uit die nageslag van Elam (met 70 mans);

8. Sebadja die seun van Migael uit die nageslag van Sefatja (met 80 mans);

9. Obadja die seun van Jegiël uit die nageslag van Joab (met 218 mans);

10. Selomit die seun van Josifja uit die nageslag van Bani (met 160 mans);

11. Sagaria die seun van Bebai uit die nageslag van Bebai (met 28 mans);

12. Joganan die seun van Katan uit die nageslag van Asgad (met 110 mans).

13. Die nageslag van Adonikam het heel agter geloop. Hulle name was Elifelet, Jeïel en Semaja, en daar was 60 mans by hulle.

14. Dan was daar ook nog Utai en Sabud uit die nageslag van Bigwai. Saam met hulle was daar 70 mans.

Leviete by Kasifja

15. Ek het almal by die kanaal wat na Ahawa vloei, bymekaar laat kom. Ons het drie dae lank daar oorgestaan. Ek het priesters onder die groep gekry. Daar was egter geen Leviete in die groep nie.

16. Ek het die leiers Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep en ook die leermeesters Jojarib en Elnatan.

17. Ek het hulle na Iddo, die hoof van die skool by Kasifja, gestuur. Hulle moes gaan kyk of hulle nie by Iddo Leviete kon kry wat bereid was om by die tempel van ons God in Jerusalem te gaan werk nie.

18. Ons God was goed vir ons. Hulle het van daar af vir ons ’n baie bekwame Israeliet gestuur. Sy naam was Serebja. Hy was ’n afstammeling van Levi se seun Magli. Van sy seuns en sy broers uit die Leviete wat saam met hom gekom het, was daar altesaam agtien mans.

19. Hulle het ook Gasabja vir ons gestuur. Jesaja uit Merari se nageslag en sy familie en seuns het saam met hom gekom. Hulle was altesaam twintig mans.

20. Daar het ook 220 tempelwerkers van daar af gekom. Hulle was almal uit die nageslag van die mans wat Dawid en die leiers destyds aangestel het om die Leviete te help. Ook hulle name is opgeneem in die lys mense wat teruggegaan het.

’n Dag van verootmoediging

21. Ek het daar by die Ahawakanaal almal opgeroep om niks te eet nie en hulle voor God te verootmoedig. Almal moes tot God bid om ons reis voorspoedig te maak en ons en ons kinders en besittings te beskerm.

22. Toe ons met die koning gepraat het, het ek nog so ewe vir hom gesê dat ons God goed sorg vir dié wat op Hom vertrou, maar Hy straf almal wat niks met Hom te doen wil hê nie. Ek was daarna te skaam om nog vir hom te vra om van sy manne saam met ons te stuur wat ons langs die pad teen aanvallers kon beskerm.

23. Ons het daarom maar onsself in God se hand gegee en op Hom vertrou. Hy het ons gehoor en ons beskerm.

Twaalf priesterleiers sorg vir die tempelskatte

24-25. Ek het Serebja en Gasabja en tien van die ander priesters gekies. Ek het vir hulle die geld en die ander goed vir die tempel gegee dat hulle dit kon oppas. Dit was die geskenke wat die koning, sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat in die ballingskap agtergebly het vir die tempel van ons God in Jerusalem gestuur het.

26. Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Dit was 22 ton silwer, items wat van silwer gemaak was wat saam 68 kilogram geweeg het, items van goud wat ook 68 kilogram geweeg het,

27. twintig bakke wat van goud gemaak was wat agt en ’n half kilogram geweeg het en twee items van suiwer koper wat net soveel werd soos goud was.

28. Ek het vir die twaalf mans gesê: “Julle is afgesonder vir die Here, die God van ons voorouers. Hierdie goed behoort aan die Here. Die silwer en die goud is vir die Here geskenk.

29. Julle moet daarna kyk en dit goed oppas sodat julle dit presies net so kan gee vir die hoof van die priesters en die Leviete en die leiers van Israel in Jerusalem. Hulle sal dit in die kamers van die tempel in Jerusalem wegbêre.”

30. Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die items vir die tempel gevat en die verantwoordelikheid op hulle geneem om dit Jerusalem toe te vat en te sorg dat dit in die tempel van ons God kom.

Hulle kom in Jerusalem aan

31. Ons is op die twaalfde dag van die eerste maand van die Ahawakanaal af weg Jerusalem toe. Ons God het ons beskerm. Hy het langs die pad mooi na ons gekyk en gekeer dat daar mense was wat ons aangeval het of rowers wat ons voorgelê het.

32. Toe ons in Jerusalem aankom, het ons eers vir drie dae gerus.

33. Op die vierde dag het ons die silwer, die goud en die items vir die tempel by die tempel gaan weeg en dit getel. Ons het dit aan die priester Meremot seun van Urija gegee. Eleasar seun van Pinehas was by. Die Leviete Josabad die seun van Jesua en Noadja die seun van Binnuï was ook as getuies by.

34. Elke ding en die presiese gewig soos ons dit opgeskryf het voor ons weg is, was net so daar. Alles is op daardie dag weer geweeg en weer opgeskryf.

35. Almal wat teruggekom het, het toe vir die God van Israel offers gebring wat op die altaar verbrand is. Daar was twaalf bulle vir al die Israeliete. Ons het 96 ramme, 77 lammers en twaalf bokke vir die sonde geoffer. Ons het al hierdie offers vir die Here op die altaar by die tempel verbrand.

36. Hulle het ook die briewe wat die koning geskryf het, vir die koning se amptenare gegee. Hulle was goewerneurs in Wes-Eufraat. Die amptenare het die volk en die tempel van God met alles gehelp wat die koning gesê het hulle vir hulle moet gee.