hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4 Die Boodskap (DB)

Die mense wat vroeër daar gebly het

1. Die mense wat daar gebly het in die tyd dat die Judeërs weggevoer is, was gekant teen die Judeërs en die Benjaminiete wat teruggekom het. Toe hulle agterkom dat die mense wat teruggekom het, begin het om die tempel van die Here, die God van Israel, te herbou,

2. het hulle met Serubbabel en die leiers van die families gaan praat. Hulle het aangebied: “Ons wil graag saam met julle die tempel herbou. Ons bid tot dieselfde God as julle. Vandat die Assiriese koning Esarhaddon ons van ons land af hiernatoe gebring het, offer ons ook vir julle God.”

3. Serubbabel, Jesua en die ander leiers het egter vir hulle gesê: “Ons en julle kan nie saam aan die tempel vir ons God bou nie. Koning Kores van Persië het vir ons die werk gegee om dit te bou. Ons wil dit bou sonder dat iemand anders ons help. Ons doen dit ter wille van die Here. Hy is die God van Israel.”

4. Die mense wat reeds daar gebly het, het toe hulle bes gedoen om die Judeërs te laat ophou. Hulle het hulle selfs probeer bangmaak sodat hulle nie met die bouwerk sou aangaan nie.

5. Hulle het tot amptenare omgekoop om die bouery te laat skade ly. Die hele tyd vandat Kores koning was totdat Darius koning van Persië geword het, het hulle die werk probeer terughou. Hulle het selfs van die koning se amptenare probeer omkoop om die bouwerk te laat stopsit.

’n Petisie aan die koning wat suksesvol was

6. Jare later, toe Ahasveros so pas koning geword het, het hulle onmiddellik by hom gaan kla. Hulle het ’n klag teen die nuwe intrekkers van Juda en Jerusalem neergeskryf en dit vir die nuwe koning gaan gee.

7. Later jare, toe Artasasta die koning was, het Bislam saam met Mitredat, Tabeël en almal wat met hulle saamgesweer het, ’n brief aan die koning van Persië geskryf. Dit is in Aramees geskryf. Iemand moes dit vir die koning vertaal.

8. Regum, die man wat die Perse as goewerneur vir die gebied aangestel het om dit vir hulle te regeer, en sy sekretaris wat sy skryfwerk doen, het ook vir Artasasta ’n brief geskryf oor Jerusalem.

9. Dié brief is geskryf onder die naam van die goewerneur Regum, die sekretaris Simsai en hulle kollegas, asook die ander amptenare uit Persië, Ereg, Babel en die Elamiete in Susan

10. en die ander volke wat die beroemde Asenappar uit hulle lande na Samaria en die ander plekke in die Wes-Eufraat soontoe oorgeplaas het.

11. In die brief het gestaan:Aan koning Artasasta! Die brief kom van u amptenare van die Wes-Eufraat.

12. Ons wil hê die koning moet weet dat die Judeërs wat van die ander provinsies hier na ons toe getrek het, besig is om in Jerusalem saam te trek. Hulle is besig om daardie slegte en rebelse stad reg te maak vir oorlog. Hulle het die stad se mure weer begin opbou. Die fondament is reeds klaar.

13. Ons wil betyds vir die koning sê dat hulle gaan ophou om hulle belasting aan die koning te betaal die oomblik dat die stad sterk genoeg is en sy mure herbou is. Die koning gaan dan geld verloor.

14. Omdat ons agter u staan en nie graag wil sien dat u skade ly nie, bring ons hierdie saak dringend onder die koning se aandag.

15. Wanneer u in die geskiedenisboeke van die konings wat voor u regeer het gaan kyk, sal u sien dat Jerusalem nog altyd moeilikheid gemaak het. Van lankal af al wou hulle niks weet nie en het hulle dit moeilik gemaak vir die Persiese koning en die ander volke in die provinsies. Dit is ook die rede hoekom die stad destyds verwoes is.

16. Ons wil hê dat u baie goed moet weet dat u hierdie deel in Wes-Eufraat gaan verloor as die stad se mure eers eenmaal klaar gebou is en die stad reg is om oorlog te maak.

17. Die koning het hulle in ’n brief geantwoord:Aan Regum, Simsai die sekretaris en die ander amptenare wat in die provinsie Samaria en die res van Wes-Eufraat woon. Die koning groet julle.

18. Die dokument wat julle vir my gestuur het, is vertaal en vir my gelees.

19. Ek het gesê dat hulle in die geskiedenisboeke moet gaan kyk wat daar oor Jerusalem geskryf is. Dit het uitgekom dat hierdie stad inderdaad van lankal af teen die konings was. Daar was altyd weerstand en oproer in die stad.

20. Jerusalem het sterk konings gehad wat oor die hele Wes-Eufraat regeer het. Hulle het belasting by die ander mense daar gevat.

21. Julle moet vir hierdie mense gaan sê om op te hou met hulle bouwerk. Die stad mag nie herbou word voordat ek self toestemming daarvoor gee nie.

22. Gee dadelik aandag aan die saak. Keer dat daar skade kom vir my ryk.

23. Die oomblik toe die brief van koning Artasasta vir Regum, die sekretaris Simsai en die ander amptenare gelees is, het hulle vinnig na die Judeërs in Jerusalem gegaan. Hulle het die Judeërs gedwing om op te hou met die werk.

Die bouwerk lê vir jare net so

24. Die werk het toe tot stilstand gekom. Dit het net so bly lê tot in die tweede jaar wat Darius koning was.