hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 8 Die Boodskap (DB)

Die tyd is ryp

1. Die Here het my ’n mandjie vol vrugte laat sien.

2. Toe die Here my vra: “Wat sien jy daar, Amos?” het ek geantwoord: “’n Mandjie vol ryp vrugte.” Die Here sê toe vir my: “My volk Israel is net so ryp om gepluk te word vir sy vonnis. Ek gaan nie toelaat dat dinge so verder aangaan nie.

3. Op die dag van teëspoed,” sê die Here, “sal daar begrafnisliedere in die paleis gesing word. Lyke sal oral in die koning se huis op die grond lê. Bly liewer stil.”

’n Bitter dag

4. Luister ’n bietjie wat die Here vir Homself beloof het, julle wat op die arm mense trap. Julle wat van die behoeftiges in julle land probeer ontslae raak.

5. Julle kan nie wag dat die fees van die nuwemaan verby is sodat julle weer julle deure kan oopmaak en kan aangaan om graan te verkoop nie. Julle wens die Here se rusdag om sodat julle weer julle winkels waar julle koring verkoop, kan oopmaak vir besigheid. Julle is daarop uit om met weegskale waaraan daar gepeuter is, al minder goed vir al meer geld te verkoop.

6. Julle verkoop koring wat met nuttelose kaf gemeng is. Julle verkoop arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie. Julle is bereid om hulle vir so min te verkoop as die geld wat ’n mens kry vir ’n paar sandale.

7. Die Here het gesweer: “Ek sal in der ewigheid nie vergeet wat Israel alles aangevang het nie.”

8. Is dit nie iets wat die wêreld moet ontstel nie? Moet die bewoners van die aarde nie huil as hulle hoor wat julle doen nie? Moet die aarde nie bewe soos alles sidder voor die Nyl wat met geweld afkom en daarna weer terugsak, wanneer hulle hoor hoe die Here julle gaan straf nie?

9. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek die son laat ondergaan in die middel van die dag. Ek sal dit laat donker word oor die aarde terwyl dit nog helder daglig is.

10. “Ek sal julle vrolike feeste in begrafnisse verander. Julle juigliedjies sal slepende klaagliedere word. Ek sal julle begrafnisklere laat aantrek. Julle sal ’n kaal kol voor op julle kop skeer soos iemand wat rou omdat sy enigste kind dood is. Daardie dag sal in bitterheid eindig.”

’n Ander soort honger

11. “Daar is ’n tyd wat gaan kom,” sê die Here, “dat daar ’n hongerte in die land gaan kom. Mense gaan nie honger wees vir iets om te eet of dors vir iets om te drink nie. Hulle gaan honger wees om te hoor wat die Here sê.

12. Hulle sal hoog en laag soek na die woord van die Here. Hulle sal trek van die Middellandse See tot by die Dooie See. Hulle sal oral soek, van die noorde tot in die ooste. Maar hulle sal niks kry nie.

13. Op daardie dag sal die mooi jongmeisies en die sterk jongmans flou word van die dors vir die Here se woord.

14. Dié wat hoog en laag gesweer het by die sonde van Samaria, wat graag gesê het: ‘So waar as die god van Dan lewe,’ of graag gesê het: ‘So waar as daar ’n pad is vir mense wat na Berseba gaan om daar te bid,’ hulle almal sal op daardie dag op die grond neerval. Hulle sal nooit weer opstaan nie.”