hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 7 Die Boodskap (DB)

Sprinkane wat alles wegvreet

1. Die Here het my in ’n gesig ’n swerm sprinkane laat sien. Die gras vir die koning se perde was net mooi afgesny en die eerste grassies het weer begin uitspruit. Die swerm sprinkane het op die gras toegesak.

2. Toe ek sien dat hulle al die nuwe gras gaan wegvreet, het ek gesê: “Here, moet asseblief nie so hard wees nie. Jakob is mos maar klein en swak. Hoe sal hulle na so iets nog kan bly leef?”

3. Die Here het hulle toe jammer gekry. Hy het gesê: “Ek sal dit nie met hulle laat gebeur nie.”

Vuur wat alles verteer

4. Die Here het my in ’n gesig laat sien hoe Hy ’n skroeiende vuur gebruik om sy volk mee te straf. Dit het eers die onderaardse water laat opdroog. Toe dit ook die grond begin wegbrand,

5. het ek by die Here gepleit: “Hou asseblief tog op. Hoe sal die swak en nietige Jakob na so iets nog kan bly leef?”

6. Die Here het toe sy plan verander. Hy het gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”

Israel het verkeerd gebou

7. Die Here het my in ’n gesig laat sien waar Hy by ’n muur staan. Hy het ’n maatband in sy hand gehou.

8. Die Here vra toe vir my: “Amos, wat sien jy, wat het Ek hier in my hand?” Ek antwoord toe: “’n Maatband waarmee ’n mens meet of alles volgens die planne gebou is.” Die Here sê toe: “Ek gaan hierdie maatband gebruik om my volk Israel te meet. Ek gaan dit nie verder verdra dat hulle so verkeerd leef nie.

9. Die plekke wat Isak gebou het om op te offer, gaan afgebreek word. Van die aanbiddingsplekke wat Israel vir my gebou het, gaan daar net murasies oorbly. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die huis van koning Jerobeam.”

Amasia die priester van Bet-El

10. Toe Amasia, die priester van die plek van aanbidding by Bet-El, hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n opstand teen u in Israel te organiseer. Die land kan nie sulke dinge laat gebeur nie.

11. Amos loop vir die hele wêreld en vertel dat Jerobeam doodgemaak gaan word en die volk van Israel dan uit die land weggevat gaan word na ’n ander land toe.”

12. Amasia het na Amos toe gegaan en in sy gesig vir hom gesê: “Hier is nie plek by ons vir mense wat allerhande goed sien nie. Gee pad! Gaan terug na Juda toe! Gaan sê vir hulle wat jy alles sien, dat hulle jou daarvoor kan betaal.

13. Hierdie plek van aanbidding by Bet-El is ’n koning se plek. Dit behoort aan die regering van Israel. Jy kan nie aangaan om jou boodskappe hier te bring nie.”

14. Amos het Amasia teruggeantwoord: “Ek bring nie die Here se boodskap vir geld nie. Dit is ook nie my werk nie. My pa was ook nie ’n boodskapper vir God dat ek dit by hom geleer het nie. Ek boer met skape en vye.

15. Die Here het my kom haal daar waar ek met my skape besig was. Hy het vir my gesê: ‘Gaan bring my boodskap vir my volk Israel.’

16. “Hoor wat sê die Here vir jou, Amasia. Jy probeer keer dat ek die Here se woord vir Israel bring. Jy wil nie hê ek moet vir Isak se nageslag sê wat die Here vir my oor hulle gewys het nie.

17. Die Here het besluit dat jou vrou ’n prostituut gaan word wat op die strate rondlê. Jou kinders sal in die oorlog doodgemaak word. Jou land sal in stukke verdeel word. Jy self sal uiteindelik in ’n vreemde land aan jou einde kom. Israel sal sonder twyfel uit sy land weggevat word na ’n ander land toe.”