hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 2 Die Boodskap (DB)

Oor Moab

1. Die Here sê: “Van al die baie sondes wat Moab al gedoen het, is daar een wat Ek altyd teen hom sal hou. Hy het die koning van Edom se eer vernietig. Hy het sy geraamte gevat en dit tot as gaan verbrand.

2. Ek sal oorlog teen Moab laat uitbreek. Sy skuilplekke in Kerijot sal tot op die grond afgebrand word. Moab se mense sal in die oorlog omkom. Hulle sal inmekaarstort wanneer die trompet geblaas word wat die oorlog laat begin.

3. Ek sal Moab se koning uitwis. Ek sal al sy leiers saam met hom laat doodmaak.” So sê die Here oor Moab.

Oor Juda

4. Die Here sê: “Van al Juda se baie oortredings is daar een spesifiek wat Ek nooit sal oorsien nie. Hulle het die wet van die Here verwerp. Hulle steur hulle glad nie aan die reëls van die Here nie. Dieselfde gode van leuens en bedrog waaragter hulle voorouers aangeloop het, het hulle laat ontspoor.

5. Ek sal ’n vuur wat alles verteer teen Juda aan die brand steek. Dit sal die skuilplekke in Jerusalem verwoes.”

Oor Israel

6. Die Here sê: “Die spesifieke oortreding waarvoor Ek Israel nooit sal vergewe nie, is dat hulle eerlike mense vir geld verkoop. Hulle verkoop die arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie vir so min as die prys van ’n paar sandale.

7. Hulle trap dié wat hulpeloos is, nog verder in die grond in. Hulle is onregverdig met dié wat alreeds swaarkry. Hulle bring my groot Naam in die skande. Pa en seun slaap by dieselfde meisie.

8. Hulle lê by die altaar waar daar geoffer word op klere wat hulle van arm mense gevat het. By die Here se tempel drink hulle die wyn waarmee ander mense hulle boete moes betaal.

9. “Dit was Ek wat die Amoriete uit die land uitgewis het voordat my volk hiernatoe gekom het. Die Amoriete was lank en regop soos sederbome. Hulle was so sterk soos akkerbome. Maar Ek het hulle met wortel en tak uitgeroei.

10. “Dit was Ek wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek het julle 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek. Ek het vir julle die land van die Amoriete gegee.

11. “Ek het julle seuns geroep om my boodskap te bring. Ek het jongmans geroep om hulle hele lewe as nasireërs aan my te wy. Julle, Israeliete, moet nou vir my sê as dit nie so is nie. Julle moet sê as dit nie is wat Ek alles vir julle gedoen het nie,” sê die Here.

12. “Maar julle het die nasireërs wat hulle lewe aan my gewy het, gedwing om hulle belofte te breek. Julle het hulle gedwing om teen hulle belofte in wyn te drink. Julle het my boodskappers se mond toegedruk. Julle het hulle belet om God se boodskap vir julle te bring.

13. “Kyk, Ek sal julle laat vasdraai. Julle sal vasval soos ’n wa in die sand vasval omdat dit te swaar gelaai is.

14. Die vinnigstes onder julle sal nie eens kan wegkom nie. Die krag van die sterkes sal hulle niks help nie. Die dapper helde sal nie eens hulleself kan red nie.

15. Die manne wat met die boog skiet, sal nie teen die aanval kan standhou nie. Die vinnige hardlopers sal nie eens kan wegkom nie. Die soldate op die perde sal niks kan red nie, selfs nie eens hulleself nie.

16. Op daardie dag sal selfs die dapperste vegters hulle wapens neergooi en hardloop vir hulle lewe.” Dit is wat die Here oor Israel sê.