hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 5 Die Boodskap (DB)

’n Begrafnislied vir Israel

1. Luister na die woorde van die lied wat op julle begrafnis gesing gaan word, Israel:

2. “Israel was ’n jongmeisie. Sy het so diep in die sonde weggesak dat sy nooit weer daar kan uitkom nie. Sy het so diep in die moeras van verkeerde dinge weggesak dat niemand haar ooit weer daaruit kan trek nie.”

3. Die Here sê oor Israel: “Van die stad waarvan daar 1 000 soldate weggegaan het om in die oorlog te gaan veg, het daar net 100 teruggekom wat nog lewe. “Van die dorp waaruit 100 man gaan veg het, het 10 by die huis teruggekom.”

Soek die Here sodat jy kan leef

4. Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe.

5. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref.

6. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.”

Die reg

7. “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.”

Loflied vir die Here

8. “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’.

9. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.”

Die verdraaide reg

10. “Julle haat mos mense wat regverdig wil wees. Julle is mos hatig op mense wat die waarheid praat in die hof.

11. Omdat julle die armes onderdruk en hulle afpers, sal julle nooit self bly in die mooi huise wat julle vir julle van klip gebou het nie, en sal julle nooit die wyn drink wat uit die wingerde kom wat julle aangeplant het nie.

12. Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense.

13. In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.”

God sal by julle wees

14. “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly.

15. Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.”

’n Dag om te huil

16. “Omdat dit gebeur het,” sê die Here, die God wat so sterk is, “sal daar gehuil word op die oop plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. In die strate daarbuite sal hulle loop en roep: ‘Ai tog, ai tog!’ Hulle sal die boer van sy lande af roep en die mense wat betaal word om op begrafnisse te kom huil sodat hulle ook saam kan kom huil.

17. Ek sal deur julle land gaan om julle te straf. By elke plek waar Ek kom, selfs in die wingerde waar die druiwe groei, sal daar gehuil word,” sê die Here.

Die dag van die Here

18. “Daar wag ’n verskriklike teleurstelling vir die mense wat nie meer kan wag dat die dag van die Here moet kom nie. Wat dink julle gaan op daardie dag met julle gebeur? Daardie dag gaan vir julle nag wees. Vergeet daarvan dat dit vir julle ’n dag gaan wees waarop julle gered sal word.

19. Dit sal op daardie dag wees soos iemand wat weghardloop vir ’n leeu en hom dan vashardloop in ’n beer. As hy hardloop om in sy huis te gaan wegkruip en hy druk met sy hand teen die muur, pik ’n slang hom wat tussen die klippe van die muur bly.

20. “Die dag van die Here bring nie vir julle enige uitkoms nie. Dis ’n donker dag van vrees. Daar sal nie enigiets op daardie dag gebeur waarop julle kan hoop nie.”

Leef eerder reg as om My te oorlaai met offers

21. “Ek hou glad nie van hierdie feeste wat julle vir My hou nie. Ek het hoegenaamd geen plesier daarin wanneer julle bymekaarkom om tot My te bid nie.

22. “Ek het niks daaraan wanneer julle vir My offers op die altaar brand of graan vir My kom aanbied nie. Ek sien dit nie eens raak wanneer julle offers bring wat julle saam met My wil eet nie. Dit roer My nie eens as julle diere kom offer wat julle vir My vetgemaak het nie.

23. Spaar My die lawaai wat julle maak as julle vir My sing. Ek wil nie luister na die harpmusiek wat julle vir My maak nie.

24. “Wees eerder regverdig. Laat dit aangerol kom soos branders by die see. Laat eerder alles wat regverdig is deur julle lewe vloei soos ’n rivier wat nooit gaan staan nie.

25. “Het julle toe julle 40 jaar lank in die woestyn was, vir My offers gebring van diere wat julle geslag het of offers waarvan julle julle deel saam met My geëet het daar by my tent, Israel?

26. Was dit nie eerder die stergod koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun wat julle in julle hart saamgedra het nie?

27. “Ek gaan julle vyand laat kom en julle wegvat uit julle land tot ver anderkant Damaskus verby,” sê die Here. “Ek is God. Ek is verskriklik sterk.”