hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 1 Die Boodskap (DB)

1. Amos het die Here se boodskap gebring toe Ussia die koning van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was toe koning van Israel in die noorde. Amos het by Tekoa met skape geboer. Twee jaar voor die groot aardbewing het die Here hom ’n gesig oor die Noordryk van Israel laat sien. Hy het so daaroor gepraat:

2. “Die Here brul soos ’n leeu in Sion. Sy stem weergalm deur Jerusalem. Die weivelde vir die diere verdroog. Die gras bo-op Karmel gaan dood.”

Oor Damaskus en Sirië

3. Die Here sê: “Van al die oortredings van Damaskus is daar spesifiek een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het die mense van Gilead uitgewis. Soos ’n mens met ’n ysterslee graan platsleep, het hy hulle van die aarde af weggevee.

4. My straf sal wees soos vuur wat kom, en die huis van koning Hasael tot op die grond afbrand. Ben-Hadad sit en regeer in sy paleis. Ek sal dit stopsit. Hy sal nie langer koning wees nie.

5. Ek sal die slotte oopbreek waarmee die inwoners van Damaskus die hekke van hulle stad gesluit het. Ek sal almal van Sirië uitroei wat in die laagte van Bikat-Awen bly. Ek sal die leiers van Bet-Eden gryp. Almal wat in Sirië bly, sal gevang en teen hulle sin na Kir toe gevat word.” Dis wat die Here oor Damaskus sê.

Oor die Filistyne

6. Die Here sê: “Van al die baie oortredings van Gasa is daar een spesifiek waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het al die mense wat op een plek bly, gaan vang en hulle almal aan Edom uitgelewer.

7. Ek sal die huise waarin die mense in Gasa wegkruip tot op die grond laat afbrand.

8. Ek sal almal doodmaak wat in Asdod bly. Ek sal die koning van Askelon uitwis. Ek sal op Ekron toesak. Al die Filistyne wat nog daar oor is, sal doodgaan.” Dit is wat die Here oor die Filistyne sê.

Oor Tirus

9. So sê die Here: “Van al die oortredings van Tirus is daar die een waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het ook ’n hele dorp se mense gevang en hulle almal aan Edom gaan uitlewer. Hy het die ooreenkoms wat hy met hulle gemaak het om altyd hulle vriend te wees, in die wind geslaan asof hy dit nooit gemaak het nie.

10. Ek sal ook die huise waarin die mense van Tirus wegkruip tot op die grond laat afbrand.”

Oor Edom

11. So sê die Here: “Edom het al baie foute gemaak. Daar is een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nooit sal vergewe nie: hy het sy broersvolk Israel met wapens bly agtervolg sonder om hom te spaar. Hy het ’n vreeslike haat vir Israel wat net nie wil ophou nie.

12. Ek sal ’n vuur in Teman aan die gang sit. Dit sal die skuilplekke van Bosra verwoes.”

Oor Ammon

13. So sê die Here oor Ammon: “Van alles wat die Ammoniete verkeerd gedoen het, is die ergste een waarvoor Ek hulle net nie kan vergewe nie, dat hulle baklei het om meer grond in die hande te kry. Hulle het nie eens twee maal gedink voor hulle in Gilead vroue wat babas verwag het met swaarde oopgesny het nie.

14. Ek sal ’n vuur in Rabba aan die brand steek. Dit sal hulle huise afbrand. Die dag wanneer die vyand hulle aanval, sal daar oorlogskrete wees. Dit sal wees soos wanneer die stormwind van ’n orkaan jou tref.

15. Die koning van Rabba en sy raadgewers sal gevang en na ’n vreemde land toe weggevat word.”