hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 4 Die Boodskap (DB)

Die ryk vroue van Samaria

1. Julle ryk vroue wat in Samaria bly, loop oor van die voorspoed soos die vet koeie wat in Basan wei. Julle buit die armes uit. Julle mishandel die behoeftige mense. Julle sê vir julle mans: “Kom, bring die drank dat ons kan drink.”

2. Die Here het by Homself gesweer dat daar ’n dag sal kom dat julle soos beeste met ’n ring deur die neus, soos visse aan vishoeke hier weggevat sal word.

3. Julle sal nie by die stad se hek hoef uit te gaan nie. Die vyand sal die stad se mure afbreek. Julle sal sommer deur die gate in die mure uit die stad kan gaan. Die vyand sal julle wegvat na die berg Hermon toe. Dis wat die Here oor julle sê.

Godsdiens sonder God

4. “Kom na die plek van aanbidding by Bet-El dat julle daar ’n bietjie sonde kan doen! Kom na die altaar by Gilgal dat julle nog meer verkeerde dinge kan doen! Kom offer elke môre julle offers! Moenie vergeet om elke derde dag julle tiendes vir God te bring nie!

5. “Kom bring maar verkeerde offers wat suurdeeg in het. Spog maar oor die offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Julle Israeliete is mos lief daarvoor om so met julle godsdiens te spog,” sê die Here.

Nogtans het julle nie na My toe gekom nie

6. “In al julle dorpe het Ek gemaak dat daar nie kos is om te eet nie. Ek het gesorg dat daar in al julle blyplekke niks brood is om te eet nie. Maar nogtans het julle nie daaraan gedink om terug te kom en by My kos te kom vra nie,” sê die Here.

7. “Drie maande voor die oes het Ek die reën laat wegbly. Ek het dit by die een dorp laat reën en glad nie by die volgende dorp nie. Die een stuk grond het mooi reën gekry. Die ander een het uitgedroog, omdat dit glad nie daar gereën het nie.

8. Twee-twee en drie-drie het mense van dorp tot dorp gekruip om water te kry. Daar was nie water vir hulle dors nie. Hulle het dors gebly. En al het dit alles gebeur, het julle nie daaraan gedink om na My toe terug te kom en by My water te vra nie,” sê die Here.

9. “Ek het ’n verskriklike warm wind oor julle tuine laat waai. Ek het siektes in julle druiwe laat kom. Sprinkane het julle vyebome en olyfbome kaalgevreet. Ten spyte van dit alles het julle nie na My toe gekom en My gevra om julle te help nie,” sê die Here.

10. “Ek het rampe oor julle laat kom soos daar destyds in Egipte rampe gekom het. Ek het julle jong soldate wat op perde veg, in die oorlog laat omkom. Daar in die kamp het die stank van die goed wat dood was, dit vir julle ondraaglik gemaak. Maar julle het nie eens daaraan gedink om na My toe terug te kom nie,” sê die Here.

11. “Ek het julle dorpe verwoes, soos Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee het. Party kon nog betyds wegkom, soos ’n stuk hout wat jy betyds uit die vuur uitruk voordat dit heeltemal verbrand. “En al het dit alles gebeur, het julle nie ’n oomblik daaraan gedink om My te kom vra om julle te help nie,” sê die Here.

12. “Omdat jy jou nie aan My wou steur nie, Israel, moet jy jou regmaak om te hoor wat God oor jou besluit het.

13. Die Here het die berge en die wind gemaak. Hy kan vir mense sê wat Hy wil hê. Hy kan die vroeë lig van die môre net so in donker verander. Hy kan groot treë gee bo-oor die bergtoppe van die wêreld. Sy Naam is: ‘Die Here, die God wat sterker is as enigiets of enigiemand.’”