hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 3 Die Boodskap (DB)

Israel moet verduidelik

1. Luister wat sê die Here oor julle, Israel. Hoor wat Hy sê van die volk wat Hy uit Egipte laat wegtrek het:

2. “Uit al die nasies wat daar op die aarde is, het Ek julle gekies en My net aan julle verbind. Julle sal vir My moet kom verduidelik hoekom julle dan soveel sonde teen My doen.”

As die Here praat, wie kan dan stilbly?

3. Sal twee mense saam die pad vat as hulle dit nie voor die tyd met mekaar so afgespreek het nie?

4. Sal ’n leeu in die bos brul as daar niks is om te vang nie? Sal ’n jong leeu grom as daar nie eens ’n prooi vir hom is nie?

5. Sal ’n voël ooit teen die grond neerslaan as dit nie ’n wip is wat hom gevang het nie? Sal ’n vangstrik toeklap as daar nie iets is wat dit afgetrap het nie?

6. Wanneer die oorlogstrompet blaas, is dit vanselfsprekend dat mense sal skrik. Wanneer ’n ramp ’n stad tref, is dit vanselfsprekend dat dit van die Here kom.

7. Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers gesê het nie.

8. Die leeu het gebrul. Wie is daar wat nie nou bang is nie? My Heer, die Here, het gepraat. Watter profeet sal nie vinnig die boodskap bring nie?

Kom kyk wat met Samaria gebeur

9. Gaan nooi die mense in die paleise van Assirië uit. Gaan roep die mense in die paleise van Egipte. Vra hulle om op die heuwels rondom Samaria te kom staan. Sê vir hulle om te kom kyk hoe deurmekaar alles in die stad is, hoe mense daar verdruk word.

10. “Die mense wat in die stad bly, weet lankal nie meer wat dit beteken om eerlik te wees nie,” sê die Here. “Alles wat hulle met geweld afgeneem en by ander gesteel het, bêre hulle in hulle luukse huise.

11. Daarom,” sê die Here, “sal ’n vyand kom en die land van alle kante af aanval. Hulle sal die mure van die stad afbreek. Hulle sal julle pragtige huise in die stad kom kaalstroop.”

12. Die Here sê: “Al wat iemand wat skape oppas, nog kan red as ’n leeu die skaap gevang het, is sy twee pote of ’n stukkie van sy oor. Net so sal al wat van die mense van Samaria oorbly, die pote van ’n bed wees of ’n stukkie materiaal wat oor ’n bank gegooi word.

13. “Luister nou na My en gaan waarsku Jakob se nageslag,” sê die Here wat met krag regeer.

14. “Die dag wanneer Ek Israel vir sy oortredings straf, sal Ek die altare van Bet-El afbreek. Die horings op die vier hoeke van die altaar sal nutteloos op die grond val.

15. Ek sal die huise waarin hulle in die somer bly, laat afbreek. Ek sal ook hulle winterhuise verwoes. Daar sal niks oorbly van hulle pragtige huise wat met ivoor versier is nie. Hulle groot woonhuise sal heeltemal verdwyn.” So sê die Here oor Israel.