hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 33 Die Boodskap (DB)

Koning Manasse verwoes Hiskia se werk

1. Manasse was twaalf toe hy koning geword het. Hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer.

2. Die Here was glad nie tevrede met wat Manasse gedoen het nie. Hy het dieselfde verskriklike sondes gedoen wat die mense wat voor die Israeliete in die land gebly het, altyd gedoen het.

3. Hy het die heilige plekke waar die afgode gedien is en wat sy pa, Hiskia, afgebreek het, weer gebou; altare vir die Baäls gebou; stompe gemaak ter ere van die afgod Asjera; al die hemelgode gedien;

4. selfs binne-in die Here se tempel altare vir ander gode gebou (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”);

5. in albei portale van die tempel altare gebou om die hemelgode te vereer;

6. sy seun in die Ben-Hinnomdal verbrand as ’n offer aan die afgode; en goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen. Manasse het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het.

7. Hy het ’n afgodsbeeld wat hy laat maak het, binne-in die tempel laat opsit. Die Here het al jare tevore vir Dawid en Salomo gesê: “Ek kom bly vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete bly.

8. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en die wet gehoorsaam wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat bly wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.”

9. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle geleer om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat voor die Israeliete in die land gebly het.

Manasse word gevang en hy bekeer hom

10. Die Here het Manasse en sy mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

11. Toe het die Here die Assiriese leërs gestuur en hulle het Manasse gevang. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met dik kettings vasgebind en hom na Babel toe gevat.

12. Terwyl hy daar baie swaargekry het, het hy weer na die Here toe gekom. Hy het die God van sy voorouers nederig om verskoning gevra vir al sy sondes.

13. Toe Manasse so gebid het, het die Here besluit om hom te help. Hy het hom na Jerusalem laat teruggaan en hy het weer die koning van Juda geword.Dit het Manasse laat besef dat die Here werklik God is.

Manasse se bouwerk

14. Manasse het toe die buitemuur van Jerusalem herbou. Hy het van ’n punt af, wes van die Gihonfontein in die Kidronvallei, verby die Vispoort tot by die Ofel die muur opgebou en baie hoër gemaak. Hy het ook militêre offisiere in die versterkte stede in Juda aangestel.

15. Hy het ook die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel weggevat en die altare afgebreek wat hy vroeër op die tempelberg in Jerusalem gebou het. Hy het die rommel buite die stad weggegooi.

16. Daarna het Manasse die Here se altaar herstel en offers vir die Here gebring om vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Hy het vir die mense van Juda gesê dat hulle die Here, Israel se God, moes dien.

17. Die mense het wel nog op die heilige plekke buite Jerusalem gaan offer, maar hulle het net vir die Here geoffer.

Manasse se dood

18. Die res van Manasse se geskiedenis, hoe hy tot sy God gebid het en hoe die sieners hom namens die Here, Israel se God, aangespreek het, word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel.

19. Die volgende sake word in Die Herinneringe van die Sieners beskryf: sy gebed; God se antwoord daarop; al die verkeerde dinge wat hy gedoen het; sy ongehoorsaamheid aan God; die plekke waar hy heilige plekke gebou het vir afgode en waar hy Asjerapale en die houtbeelde van die afgode neergesit het, nog voordat hy hom bekeer het.

20. Ná Manasse se dood is hy by sy paleis begrawe.Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.

Amon regeer in Juda

21. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer.

22. Die Here was nie tevrede met wat hy gedoen het nie, net soos die Here nie tevrede was met wat sy pa, Manasse, gedoen het nie. Amon het die houtbeelde van die afgode wat sy pa vroeër laat opsit het, vereer.

23. Hy het hom glad nie aan die Here gesteur nie en hy het nie, soos sy pa Manasse, homself aan die Here se wil onderwerp nie. Trouens, Amon se sondes het net meer en meer geword.

24. ’n Paar van sy amptenare het teen hom saamgesweer en hom in die paleis vermoor.

25. Die mense het toe almal doodgemaak wat by sy moord betrokke was.Hulle het Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak.