hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die sonde van Manasse, en sy berou

1. Manasse was twaalf toe hy koning geword het en het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer.

2. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.

3. Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien.

4. Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.”

5. In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou.

6. Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste.Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart.

7. Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd.

8. As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.”

9. Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.

10. Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie.

11. Toe het die Here die leëraanvoerders van die koning van Assirië laat kom, en hulle het Manasse gevange geneem, hake deur sy neus gesteek, hom geboei met bronskettings en hom na Babel toe gevat.

12. Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders,

13. en gebid. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is.

Manasse se bouwerk en hervormings

14. Manasse het later die buitemuur van die Dawidstad wes van die Gihon, in die dal, by die ingang van die Vispoort en rondom die Ofel herbou. Hy het die muur baie hoër gemaak as wat dit was. In al die vestingstede van Juda het hy bevelvoerders geplaas.

15. Verder het hy die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die Here verwyder en buitekant die stad weggegooi, en so ook al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.

16. Hy het die altaar van die Here herstel en daarop maaltyd- en dankoffers gebring. Hy het opdrag gegee dat Juda die Here die God van Israel moet dien.

17. Die volk het wel nog op die hoogtes offerandes gebring, maar nou vir die Here hulle God.

Manasse se dood

18. Die ander verhale oor Manasse, sy gebed tot sy God en die verhale oor die sieners wat hom aangespreek het in die Naam van die Here die God van Israel, staan in Die Verhale van die Konings van Israel.

19. Sy gebed en die verhoring daarvan, al sy sonde en sy selfverheffing, en die plekke waar hy hoogtes gebou het en gewyde pale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gekry het, staan opgeteken in Die Verhale van die Sieners.

20. Manasse is oorlede, en hy is begrawe in sy huis. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.

Amon

21. Amon was twee en twintig toe hy koning geword het en het twee jaar in Jerusalem geregeer.

22. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het. Vir al die beelde wat Manasse, sy pa, gemaak het, het Amon offerandes gebring. Hy het hulle gedien

23. en nie voor die Here berou getoon soos sy pa nie. Hy het nog meer misdade teen God begaan.

24. Sy amptenare het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak.

25. Daarna het die burgers van die land die samesweerders almal doodgemaak en Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak.