hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 21 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Josafat is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

Joram

2. Joram het 'n hele paar broers gehad: Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarja, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van koning Josafat van Juda.

3. Hulle pa het vir hulle groot geskenke gegee, silwer, goud en ander kosbaarhede en ook vestingstede in Juda, maar die koningskap het hy aan Joram gegee, want dié was die oudste.

4. Nadat Joram die koningskap van sy pa oorgeneem het en seker van sy saak was, het hy al sy broers en ook van die Israelitiese leiers laat vermoor.

5. Hy was twee en dertig toe hy koning geword het en het ag jaar lank in Jerusalem geregeer.

6. Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

7. Die Here wou egter nie die koningshuis van Dawid uitroei nie, want Hy het met Dawid 'n verbond gesluit en het belowe om vir Dawid en sy nageslag die troon vir altyd te verseker.

8. In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel.

9. Joram het met sy offisiere en sy hele strydwamag uitgetrek en het in die nag 'n aanval gemaak op die Edomiete wat hom en sy strydwaoffisiere omsingel het.

10. Die Edomiete het egter tog onafhanklik geword, en is dit vandag nog. In dié tyd het ook Libna teen die gesag van Joram in opstand gekom. Dit was omdat Joram nie die Here die God van sy voorvaders gedien het nie.

11. Bowendien het Joram hoogtes ingerig in die berge van Juda, die inwoners van Jerusalem tot ontrou verlei en Juda 'n verkeerde pad laat loop.

12. Daar het vir hom 'n brief van die profeet Elia af gekom wat soos volg gelui het:“So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Omdat jy nie die pad van jou vader Josafat en van koning Asa van Juda loop nie,

13. maar dié van die konings van Israel, en jy Juda en die inwoners van Jerusalem net so ontrou laat word het as die familie van Agab, en jy jou familie, jou eie broers, beter mense as jy, laat vermoor het,

14. daarom sal die Here 'n groot ramp bring oor jou volk, jou kinders, jou vrouens en al wat jy besit.

15. Jy self sal 'n ernstige siekte opdoen, 'n slepende siekte aan jou ingewande, so erg dat jou ingewande sal uitkom.”

16. Die Here het toe die Filistyne en die Arabiere wat bure van die Kussiete was, vyande van Joram laat word.

17. Hulle het 'n inval in Juda gemaak en al die koninklike besittings in die paleis geroof, en ook sy seuns en sy vrouens. Al seun wat hulle vir hom laat oorbly het, was Joahas, sy jongste.

18. Daarna het die Here vir Joram getref met 'n ongeneeslike siekte in sy ingewande.

19. Mettertyd, na omtrent twee jaar, het sy ingewande uitgekom as gevolg van die siekte, en hy het 'n pynlike dood gesterf. Sy volk het nie met sy dood vure aangesteek soos hulle dit vir sy voorvaders gedoen het nie.

20. Joram was twee en dertig toe hy koning geword het en hy het ag jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy heengaan is nie betreur nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie.