hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ussia se voorspoedige regering

1. Die bevolking van Juda het vir Ussia gevat en hom in Amasia, sy pa, se plek koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud

2. en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

3. Ussia was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem.

4. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.

5. Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom.

6. Hy het 'n veldtog onderneem teen die Filistyne, en hy het die mure om Gat, Jabne en Asdod afgebreek en stede gebou in die omgewing van Asdod en in die res van die Filistynse gebied.

7. God het hom gehelp teen die Filistyne, teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete.

8. Die Ammoniete het vir Ussia geskenke gebring, en sy naam het tot by Egipte bekend geword, so het sy mag toegeneem.

9. Ussia het in Jerusalem stewige forte gebou by die Hoekpoort, by die Dalpoort en by die draai in die muur.

10. Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond.

11. Ussia het 'n leër gehad wat in afdelings uitgetrek het. Die telling en indeling is gedoen deur die sekretaris Jeïel en die amptenaar Maäseja, onder toesig van Gananja, 'n beampte van die koning.

12. Daar was altesaam twee duisend ses honderd familiehoofde in bevel van die soldate.

13. Die leër onder hulle bevel was drie honderd en sewe duisend vyf honderd, kragtige vegters op wie die koning kon reken teen 'n vyand.

14. Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle.

15. In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet.Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword.

Ussia word melaats

16. Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring.

17. Die priester Asarja, met tagtig priestersoldate by hom, het agter koning Ussia aan gegaan

18. en hom probeer keer en vir hom gesê: “Dit kom u nie toe om vir die Here wierookoffers te bring nie, Ussia! Om wierookoffers te bring, is die voorreg van die priesters, die nageslag van Aäron. Hulle is daartoe gewy. Gaan liewer uit die heiligdom uit. U matig u dinge aan, en u sal daarvoor geen waardering kry van God die Here nie.”

19. Ussia het al die wierookpan in sy hand gehad om die offer te bring, en hy het briesend geword. Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit voor die oë van die priesters daar in die huis van die Here, by die wierookaltaar.

20. Toe die hoëpriester Asarja en al die ander priesters na hom kyk, is hy melaats op sy voorkop. Hulle het hom daar uitgedrywe, en hy was self haastig om weg te kom; die Here het hom met dié ramp getref.

21. Koning Ussia was melaats tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gaan woon, melaats en verban uit die huis van die Here. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.

Die dood van Ussia

22. Die ander verhale oor Ussia, dié van vroeër en dié van later, is neergeskryf deur die profeet Jesaja seun van Amos.

23. Ussia is oorlede, en hy is begrawe in die begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, want die mense het gesê: “Hy was melaats.” Sy seun Jotam het hom as koning opgevolg.