hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die besoek van die koningin van Skeba

1. Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo vertel word en sy het toe self na Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het 'n baie groot gevolg saamgebring en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink,

2. en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir Salomo onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.

3. Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het,

4. die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes met hulle monderings, sy skinkers met hulle monderings, en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan.

5. Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar.

6. Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor u groot wysheid nie. U het alles wat ek gehoor het, ver oortref.

7. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor!

8. Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op sy troon gesit het, 'n koning deur u God, die Here, self aangewys! Dit is omdat u God vir Israel liefhet en die volk altyd in stand wil hou dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

9. Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.

10. Bowendien het die dienaars van Hiram en Salomo wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog jenewerhout en edelstene gebring.

11. Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Die gelyke daarvan is tevore nie in Juda gesien nie.

12. Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, meer selfs as wat sy vir die koning gebring het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

Die rykdom, weelde en mag van Salomo

13. Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop.

14. Behalwe wat die reisigers en handelaars ingebring het, het al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ook goud en silwer aan Salomo gelewer.

15. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram gebruik.

16. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat drie en 'n half kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

17. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad en 'n voetbank wat met goud aan die troon vasgeheg was. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen.

19. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

20. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer is in Salomo se dae nie as iets besonders beskou nie.

21. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met die dienaars van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

22. Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.

23. Al die konings van die aarde het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.

24. Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.

25. Salomo het vier duisend stalle vir perde en strydwaens gehad en twaalf duisend ruiters. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem.

26. Hy was opperheerser oor al die konings, van die Eufraat af tot in die land van die Filistyne en tot aan die grens van Egipte.

27. Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld.

28. Perde is vir Salomo uit Egipte en al die lande ingevoer.

Die dood van Salomo

29. Die res van die verhale oor Salomo, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in Die Verhale van die Profeet Natan, Die Profesieë van Agija van Silo, en Die Gesigte van die Siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat.

30. Salomo was veertig jaar koning in Jerusalem oor die hele Israel.

31. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.