hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die godsdienstige hervormings van Asa

1. Die Gees van God het oor Asarja seun van Oded gekom.

2. Hy het Asa tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en alle manne van Juda en Benjamin: As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.

3. Israel was lank sonder die ware God, sonder 'n priester wat die wil van God bekend kon maak, en sonder die woord van God.

4. Toe Israel hom in sy nood tot die Here sy God bekeer het en na Hom gevra het, het die Here Hom deur hulle laat vind.

5. In daardie tyd kon niemand veilig kom of gaan nie, want daar was groot onrus in al die lande.

6. Volk het teen volk gebots, stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.

7. Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie, want julle sal die beloning vir julle optrede ontvang.”

8. Toe Asa hoor wat die profeet, die seun van Oded, aankondig, het hy moed geskep en die afgodsbeelde uit die hele gebied van Juda en Benjamin laat verwyder, en ook uit die stede wat hy in die Efraimsberge verower het. Hy het ook die altaar van die Here wat voor die ingangsportaal van die tempel was, laat regmaak.

9. Deur hierdie optrede het hy die hele Juda en Benjamin om hom saamgetrek, en ook talle immigrante uit Efraim en Manasse en uit Simeon, wat uit Israel na hom toe oorgeloop het toe hulle sien die Here sy God is by hom.

10. In die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa het hulle almal in Jerusalem bymekaargekom

11. en op dié bepaalde dag vir die Here offerandes gebring uit die buit wat hulle saamgebring het: sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee.

12. Hulle het ook 'n verbond gesluit om aan die Here die God van hulle voorvaders gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel.

13. Elkeen wat ongehoorsaam was aan die Here die God van Israel, moes doodgemaak word, klein en groot, man en vrou.

14. Hulle het die eed aan die Here hardop afgelê onder begeleiding van jubelroepe, trompetgeskal en die klank van die ramshoring.

15. Die hele Juda het hulle verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Dit was vir hulle 'n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle kante toe.

16. Koning Asa het vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap, dit fyngemaal en in die Kedrondal in die vuur gegooi.

17. Die hoogtes het wel nie heeltemal uit Israel verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here.

18. Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die tempel van God gebring: silwer, goud en offergereedskap.

19. Tot sy vyf en dertigste regeringsjaar was daar nie oorlog nie.