hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 25 Die Boodskap (DB)

Hiskia praat

1. Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf.

2. Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek.

3. Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil.

4. Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word.

5. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word.

6. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie.

7. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi.

8. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder.

9. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie.

10. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland.

11. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word.

12. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister.

13. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe.

14. Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie.

15. Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ’n saak oortuig. Met mooipraat kan jy baie teëstand afbreek.

16. Eet net genoeg. Soetgoed is lekker, maar jy moet weet wanneer om op te hou. As jy jou ooreet, voel jy gou-gou naar.

17. Moenie te veel by mense kuier nie. Hulle sal moeg word vir jou en later niks meer van jou hou nie.

18. Liegstories en skinderpraatjies is soos ’n hamer, ’n mes en ’n skerp pyl wat iemand se lewe verwoes.

19. Iemand wat onbetroubaar is, is soos ’n vrot tand en ’n seer voet. Wanneer jy hom die nodigste het, laat hy jou in die steek.

20. ’n Wyse het mensekennis. Hy sal nie vrolik wees by mense wat hartseer is nie. Dit pas tog nie. Dit is soos om jou warm klere op ’n bitter koue dag uit te trek, of soos om die verkeerde salf op ’n wond te smeer.

21. As jou vyand honger is, gee hom kos. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Dit sal hom sagmaak.

22. Hy sal jammer wees oor alles wat hy aan jou gedoen het. En die Here sal ook lief wees vir jou.

23. Soos die wind reën bring, so maak skinderpraatjies ’n mens woedend.

24. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis saam met ’n rusiemaker wat heeltyd neul en kerm.

25. Soos koue water vir ’n groot dors, so is goeie nuus van ’n geliefde wat ver bly.

26. As drinkwater vuil word en damme besoedel word, is dit sleg. So is dit ook as ’n gelowige die pad byster raak en verkeerde dinge begin doen.

27. Te veel soetigheid is sleg. So ook oordadige eerbetoon.

28. Iemand sonder enige selfbeheersing is net so weerloos soos ’n groot stad sonder polisie of veiligheidswagte. Totale wanorde kan uitbreek.