hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus en Apollos is nie

opponente nie, maar deel van

God se taakspan

1. Broers en susters, toe ek by julle was, kon ek nie met julle praat soos met geestelik volwassenes nie. Ek moes met julle praat soos met mense wat nog wêrelds is, soos met kindertjies in die Christelike geloof.

2. Ek moes julle met melk voed, nie met vaste kos nie, want julle sou nie iets sterkers kon verteer nie. Trouens, julle is ook nou nog nie gereed daarvoor nie,

3. want julle word nog steeds deur wêreldse neigings beheer. Julle is jaloers op mekaar en maak rusie. Is dit nie ’n bewys dat julle nog deur wêreldse neigings oorheers word nie? Julle tree op soos mense wat nie aan die Here behoort nie.

4. As die een sê: “Ek volg Paulus,” en die ander een sê: “Ek verkies Apollos,” tree julle dan nie op soos mense wat nie aan die Here behoort nie?

5. Wie is Apollos of Paulus nou eintlik dat julle so oor ons verdeel is? Ons is tog net diensknegte deur wie julle tot die geloof gekom het. Elkeen van ons het maar net die werk gedoen wat die Here aan ons toevertrou het.

6. My werk was om die saad te plant. Apollos moes dit natgooi. Maar God het laat groei.

7. Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei.

8. Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk.

9. Ons is Gód se werkspan. Julle is Gód se saailand, Gód se gebou, nie ons s’n nie.

10. Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees.

11. Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.

12. As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.

13. Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.

14. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.

15. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.

16. Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie?

17. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel.

18. Moenie julleself om die bos lei nie. As julle dink dat julle wys is volgens die standaarde van hierdie wêreld, sal julle eers dwaas moet word sodat julle werklik wys kan word volgens God se standaarde.

19. Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid. Soos die Skrif dit stel:“God vang die slimmes met hulle eie slinkse planne.”

20. En weer:“Die Here ken die gedagtesvan die wyses –hoe niksseggend hulle is.”

21. Moet julle dus nie daarop beroem dat julle volgelinge van een spesifieke leier is nie. Alles is immers julle s’n:

22. Paulus en Apollos en Petrus, die wêreld, die lewe en die dood, die hede en die toekoms. Alles behoort aan julle!

23. Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God.