hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Profesie is nuttiger vir

gemeente-opbou as praat in tale

1. Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasties oor die gawes van die Gees, veral oor die gawe om te profeteer.

2. As jy in tale praat, rig jy jou nie tot mense nie, maar tot God, want mense sal jou nie verstaan nie. Deur die werking van die Gees praat jy immers diep en onbegryplike dinge.

3. Maar as jy profeteer, bou jou woorde mense op en bemoedig en vertroos hulle.

4. Iemand wat in tale praat, word self geestelik opgebou, maar die persoon wat profeteer, bou die gemeente op.

5. Ek sou bly wees as julle almal in tale praat, maar nog blyer as julle sou profeteer. Want om te profeteer, is ’n belangriker en nuttiger gawe as die spreek in tale, tensy iemand sou verduidelik wat jy sê sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.

6. Broers en susters, sê nou maar ek sou na julle toe kom en ek praat net in tale, hoe sou dit vir julle iets kon beteken? Maar as ek vir julle ’n Goddelike openbaring of ’n spesiale insig of ’n profesie sou bring, of julle sou iets besonders van my leer, dan sou dit tog sekerlik baie vir julle beteken.

7. Selfs lewelose musiekinstrumente soos die fluit en die harp wys vir ons hoe noodsaaklik dit is om in verstaanbare taal te praat. Want as die note nie duidelik onderskeibaar is nie, hoe sal ons hulle melodie herken?

8. En as die trompet nie ’n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak?

9. Dieselfde geld vir julle. As julle in ’n taal praat waarvan ’n mens nie die woorde kan onderskei nie, hoe sal iemand verstaan wat julle sê? Julle sal soos mense wees wat in die wind praat.

10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en hulle maak almal van klanke gebruik.

11. Maar as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees.

12. So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou.

13. Daarom moet elkeen wat in tale praat, ook bid vir die gawe van verduideliking.

14. Want wanneer ek in ’n taal bid, is dit my gees wat bid, maar my verstand bly onaktief.

15. Wat sê dit? Ek sal albei doen. Ek sal nie net bid met my gees nie, maar ek sal ook bid in verstaanbare woorde. Ek sal nie net lofsing met my gees nie, maar ook in verstaanbare woorde.

16. Want as jy God net met jou gees prys, hoe sal hulle wat onkundig is oor wat jy sê, jou lofprysing met hulle “Amen” bevestig? Hulle verstaan tog nie wat jy sê nie.

17. Jy het wel voortreflik gebid, maar jou medegelowiges word nie in hulle geloof opgebou nie.

18. Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal.

19. Maar in ’n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ’n onbekende taal.

20. Broers en susters, julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke.

21. Daar staan in die Skrif dat die Here sê:“Ek sal deur andertaligesen deur die mondvan onbekende mensemet my eie volk praat. Maar selfs dan sal hullenie na My luister nie.”

22. Beteken dit dus dat die praat in tale ’n teken is, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges en dat profesie daarenteen nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges?

23. Inteendeel, as die hele gemeente bymekaarkom en almal praat in tale en daar kom onkundiges of ongelowiges in, sal hulle nie sê julle is die kluts skoon kwyt nie?

24. Maar as almal profeteer en daar kom ongelowiges of onkundiges in en hulle word deur almal oortuig van sonde, en hulle lewens word deur almal ondersoek,

25. en hulle hartsgeheime word blootgelê, dan sal hulle net daar op hulle knieë val en God aanbid en verklaar: “Werklikwaar, God is hier by julle!”

26. Wel, broers en susters, kom ons vat saam. As julle bymekaarkom, kom die een met ’n loflied, die ander een wil oor ’n saak onderrig gee, nog ’n ander een wil vertel van ’n openbaring wat hy of sy ontvang het, nog een wil in tale praat en ’n ander een wil dit uitlê. Goed so, maar laat alles so gedoen word dat dit tot opbou van die gemeente dien.

27. As daar persone is wat in tale wil praat, gee aan twee of hoogstens drie die geleentheid om dit te doen en laat iemand dit uitlê.

28. Maar as daar niemand teenwoordig is wat die praat in tale kan uitlê nie, laat hulle in die gemeentebyeenkoms stilbly en hulle tuis op hulle eie tot God rig.

29. Wat die profete betref, laat twee of drie aan die woord kom en die ander dan beoordeel wat gesê is.

30. Maar as iemand besig is om te profeteer en iemand anders wat daar sit, ontvang ’n openbaring, moet eersgenoemde ophou praat.

31. So kan julle almal, een na die ander, ’n beurt kry om te profeteer en almal leer uit wat gesê word, en almal aangespoor word.

32. Onthou, mense wat profeteer, is in beheer van hulle gees en kan hulle beurt afwag.

33. God is nie ’n God van wanordelikheid nie, maar van onderlinge harmonie soos dit die geval is in al die gemeentes.

34. Die vroue moet in julle gemeente-byeenkomste stilbly. Dit pas hulle nie om daar te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê.

35. As een van hulle ’n vraag wil stel, moet hulle hulle mans tuis daarna vra, want dit pas nie ’n vrou om in die gemeentebyeenkomste te praat nie.

36. Dink julle regtig dat die ware insig aangaande God se woord sy oorsprong by julle het of dat dit net by julle uitgekom het? Dan maak julle ’n groot fout.

37. As jy daarop aanspraak maak dat jy ’n profeet is of dat jy ’n geestelike mens is, behoort jy te erken dat wat ek skryf, ’n opdrag van die Here is.

38. Maar as jy dit ontken, sal die Here jou ook nie erken nie.

39. Dus, my broers en susters, wees entoesiasties om te profeteer en moenie die spreek in tale teëgaan nie.

40. Maar laat alles in goeie styl en ordelik plaasvind.