hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus waarsku die gemeente

teen afgodsdiens

1. Broers en susters, ek wil hê julle moet goed verstaan wat destyds met ons voorouers in die woestyn gebeur het. God het hulle almal gelei deur middel van ’n wolk wat vooruit gegaan het. Hulle het almal veilig deur die see getrek.

2. As volgelinge van Moses is hulle almal in die wolk en die see gedoop.

3. En hulle het almal van dieselfde geestelike voedsel geëet

4. en almal van dieselfde wonderwater gedrink. Want hulle het uit die wonderrots gedrink wat hulle vergesel het; en daardie rots was Christus.

5. En tog was God met die meeste van hulle ontevrede en het Hy hulle in die woestyn laat omkom.

6. Hierdie gebeurtenisse moet vir ons tot waarskuwing dien sodat ons nie na verkeerde dinge hunker soos hulle gedoen het nie.

7. Ons moet nie afgode dien soos party van hulle nie. Die Skrif sê: “Die volk het gaan sit om fees te vier en opgestaan om voor die afgod danse uit te voer.”

8. Ons moet ons ook nie aan onsedelike dade skuldig maak soos party van hulle nie. Die gevolg was dat 23 000 van hulle op een dag gesterf het.

9. Ook moet ons Christus nie uittart soos sommige van hulle gedoen het en toe deur slangbyte omgekom het nie.

10. En moenie mor soos sommige van hulle nie, want dit is die rede waarom God die doodsengel gestuur het om hulle dood te maak.

11. Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ’n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku – ons wat hier teen die einde van die wêreldgeskiedenis leef.

12. Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ’n val kom nie.

13. Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

14. Daarom, my geliefdes, vlug weg van die afgodsdiens.

15. Ek weet ek praat met verstandige mense. Oordeel self oor wat ek nou gaan sê.

16. Wanneer ons aan die tafel van die Here die seën oor die beker uitspreek, kry ons mos aandeel aan Christus se bloed. En as ons die brood breek, kry ons mos aandeel aan Christus se liggaam.

17. Omdat ons almal aandeel aan een en dieselfde brood kry, maak ons almal saam, al is ons baie mense, een liggaam uit.

18. En dink aan die volk Israel. Almal wat van die offers eet, word daardeur tot ’n eenheid verenig.

19. Wat probeer ek sê? Bedoel ek dat afgodsoffers iets belangriks is of dat die afgode werklik bestaan?

20. Hoegenaamd nie. Wat ek egter wel sê, is dat daardie offers in werklikheid aan duiwels gebring word en nie aan ’n godheid nie. En ek wil nie hê enigeen van julle moet met die duiwels gemeenskap hê nie.

21. Julle kan tog nie die beker van die Here drink en ook nog die beker van die duiwels nie! Julle kan nie aan die tafel van die Here deel hê en ook nog aan die tafel van die duiwels nie!

22. Wil julle werklik die Here uittart? Ons is tog nie magtiger as Hy nie!

23. Julle sê: “Alles is ons geoorloof.” Ja, maar nie alles is tot voordeel nie. Alles is inderdaad geoorloof, maar nie alles is opbouend vir almal nie.

24. Moenie op julle eie belange ingestel wees nie, maar wees ingestel op wat vir ander die beste is.

25. Handel dan soos volg. Eet alles wat in die slaghuis verkoop word. Moenie vra of daarvan aan die afgode geoffer was of nie sodat julle gewete nie belas word nie.

26. Want “die aarde en al sy volheid behoort aan die Here”.

27. As ’n ongelowige julle vir ’n ete nooi en julle besluit om te gaan, eet dan alles wat aan julle voorgesit word sonder om enige vrae daaroor te vra. Moet dit dan nie vir julle gewete moeilik maak nie.

28. Maar veronderstel iemand sê vir julle dat die vleis vir ’n afgod geoffer was, moet dit dan nie eet nie uit bedagsaamheid teenoor die een wat dit vir julle vertel het en ter wille van die gewete –

29. ek bedoel nie julle eie gewete nie, maar die ander persoon s’n. Moet my vryheid dan ingeperk word deur iemand anders se gewetensbesware?

30. As ek God kan dank vir die kos en dit geniet, is dit dan reg dat ek daarvoor veroordeel word?

31. Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

32. Moenie die Jode aanstoot gee nie, ook nie vir die Grieke of vir die gemeente van God nie. Dit is ook my beleid.

33. Ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie voordeel nie, maar dié van baie ander met die oog op hulle verlossing.